Verlede maand
Skole woeker vir oopmaak
BESKUT: Hermanus Mouwers, skoolhoof, met die skoonmaakmiddels en maskers vir leerders.  ~ Jonathan Lestrade

“ONS wil ons kinders by die skool hê.”

Só sê Mary Banda, hoof van die Hoërskool Klein Nederburg in die Paarl.

“Hulle is nou al twee maande by die huis en ons is bewus van die uitdagings wat daar is om by die huis te leer. Ons is nie seker of almal die werk wat ons vir hulle gegee het om te doen gekry of gedoen het nie.

“Dit is waarom ons in ons vergaderings besluit het wanneer ons Maandag begin, vergeet ons van wat ons huis toe gestuur het en begin van voor af.

Ouers

“Ons verstaan dat nie almal fone het waarop hulle die werk kon kry nie, so ons wil vir almal die kans gee om op dieselfde vlak te wees,” sê Banda.

Sy sê ook dat ’n brief uitgestuur gaan word aan alle ouers sodat hulle presies weet wat beplan is en ook weet dat die skool voorbereid is om leerders en onderwysers te verwelkom.

“Ons weet dit gaan nie maklik wees nie, maar ons weet ook as ons nie probeer nie, sal ons nie weet of ons plan uitwerk nie. Ons 230 matrikulante is opgedeel in kleiner groepe.

“Elke klas sal twee onderwysers hê. Een onderwyser sal die ander ondersteun terwyl hulle klas gee,” sê sy.

ONTSMET: Tommy Matile maak die skoolsaal skoon wat nou in ’n personeelkamer omskep is. Foto: Jonathan Lestrade

Banda sê hulle het ook die leerders in groepe van tussen 19 en 25 per klas opgedeel.

Leerders sal elk op sy of haar eie bank sit.

“Ons onderwysers sal loop, nie die leerders nie. Dit is om te verseker dat ons nie baie beweging tussen klasse het nie.

“Leerders sal ook elke dag in dieselfde bank sit en die 1,5 m-afstand van mekaar moet hou.”

Banda sê hulle het nog nie al die PPE ontvang nie, maar dit keer hulle nie om aan te gaan met hul planne nie.

“Tans word die skool skoongemaak – klaskamers en badkamers. Ons gebruik ook die skoolsaal as ons personeelkamer waar ons kan vergader.

“Die saal is groot genoeg vir ons almal en ook beter vir ons om by die social distancing te hou.”

“Dit is normaal om angstig en onseker te wees in hierdie tyd, maar as personeel weet ons as ons saamwerk, kan ons elke uitdaging hanteer wat daar is.”

Gemaklik

SKOONMAAK: By die Klein Nederburg Hoërskool word alles skoongemaak. Selfs die spieëls word blink gemaak, deur Emile Moses. Foto: Jonathan Lestrade

Intussen sê Hermanus Mouwers, Uitsig Primêr se hoof, hulle is ook gereed om leerders en opvoeders terug te verwelkom.

“Ons het laas week ons temperatuurmeters ontvang, asook sanitiser en bleach­. Handskoene en maskers vir leerders en onderwysers is ook ontvang en sal uitgedeel word aan al die leerders wanneer hulle Maandag terugkeer,” sê hy.

“Ons onderwysers is gemaklik om terug te keer omdat ons skool daagliks skoongemaak is danksy ons skoonmaker. Dit sal tog baie help as ons meer skoonmakers kon kry sodat daar aanhoudend skoongemaak word waar ’n onderwyser of leerder gewerk het,” sê hy.

VOORSORG: Rudy Sparks gebruik die temperatuurmeter om Bronwyn Fortuin se liggaamstemperatuur te bepaal. Albei is personeellede by die Primêre Skool Uitsig. Foto: Jonathan Lestrade

Mouwers sê die fokus is daarop om klaskamers gereed te kry en die finale roosters op te stel sodat hulle Maandag met klas kan begin.

“Ons weet dit gaan ’n uitdaging wees om te verseker dat al die leerders by die regulasies hou, maar dit kan gedoen word.

“Ons sien daarna uit om almal terug te verwelkom.” 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters