9 dae gelede
Samples in pad gedump
ONDERSOEK: Tabita Makula sê hulle ondersoek tans die skokkende voorval.  ~ Foto Verskaf

DIE Oos-Kaapse gesondheidsdepartement en die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdienste (NHLS) ondersoek ’n geval waar Covid-19-toetsmonsters sommer langs die pad gedump is.

Die toetse is Maandagoggend op die N2-snelweg tussen King William’s Town en Oos-Londen gevind.

Die NHLS-areabestuurder, Tabita Makula, sê hul sakebestuur van die NHLS-site in Oos-Londen het die toneel besoek en ál die toetsmonsters darem weer bymekaargemaak.

Makula sê van die samples het etikette van die Grey-hospitaal in King William’s Town opgehad.

Sy sê hulle vermoed hierdie samples is by die NHLS se laboratorium in Bhisho geneem.

Volgens Makula is daar twee toetssentrums in die Oos-Kaap: een in Oos-Londen en die ander een in Port Elizabeth.

Makula bevestig verder dat die samples wat langs die N2 gedump is, gevind is op die pad na die provinsiale toetssentrum in Port Elizabeth.

Totaal

Sy sê toetsmonsters word gewoonlik na PE geneem as die sentrum in Oos-Londen nie genoeg toetsstellehet nie.

Volgens eNCA het ’n drawwer op die samples afgekom. Hy het vertel dat honderde samples langs die pad gevind is.

Makula kon egter nie die totaal bevestig nie en sê ’n ondersoek sal dit bepaal.

Die koeriermaatskappy wat gekontrakteer is om die samples te vervoer, is volgens Makula gevra om ’n verslag saam te stel om die voorval te please explain.

“Gewoonlik as daar ’n kapingsvoorval was, sal die maatskappy ons in kennis stel.

“Maar ons het in hierdie geval niks van hulle af gehoor nie,” laat Makula hoor. – News24

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters