19 dae gelede
SA Covid-variant trek Franse man plat wat vroeër herstel het
Coronavirus.
Covid-19: Pasiënt krities na herinfeksie met 501Y.V2 variant:studie.  ~ Getty Images

DOKTERS in Frankryk behandel 'n pasiënt in ‘n kritieke toestand wat met die sogenaamde Suid-Afrikaanse corona-virus-variant besmet is vier maande nadat hy van Covid-19 herstel het. 

Dis die eerste geval van sy soort volgens navorsers wat vandeesweek ‘n studie in die publikasie Clinical Infectious Disease uitgereik het.  

Die 58-jarige man, ‘n asmalyer, is in September aanvanklik positief getoets vir Covid-19. Hy het ‘n koors gehad en was kortasem. Hy het die simptome net vir enkele dae ondervind en is in Desember 2020 twee keer negatief vir Covid-19 getoets.  

Hy is egter in Januarie in die hospitaal opgeneem en die Suid-Afrikaanse variant is by hom gediagnoseer. Die pasiënt se toestand het vererger en hy is tans in 'n "kritieke toestand" op 'n ventilator.   

"Dit is, na ons wete, die eerste beskrywing van herinfeksie met die Suid-Afrikaanse variant wat erge Covid-19 veroorsaak vier maande ná 'n eerste ligte infeksie," lui die studie.   

Die 501Y.V2-variant van die corona-virus is einde verlede jaar in Suid-Afrika geïdentifiseer en het onmiddellik tot groot kommer onder medici gelei. 

Dit het agt belangrike mutasies, waarvan een die proteïen van die virus beïnvloed, wat dit meer effektief maak om aan menslike selle te bind. Dit is daarom meer aansteeklik.  

Die entstofvervaardigers Pfizer/BioNTech en Moderna sê dat hul mRNA-entstowwe steeds doeltreffend is teen die Suid-Afrikaanse variant, asook een wat verlede jaar in Brittanje ontstaan het.

‘n Studie het egter verlede week getoon dat die AstraZeneca-entstof nie ligte en matige gevalle van infeksie van die Suid-Afrikaanse variant voorkom nie.  

 "Die impak van 501Y.V2-mutasies op die doeltreffendheid van entstowwe wat ontwerp is vir vroeër SARS-CoV-2-variante, is nog onbekend," sê die outeurs van die herinfeksiestudie. - JakarandaFM 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters