Verlede maand
Rugby-cop dood aan Covid-19
STRYD VERLOOR: Jacro “Smittie” Smith het sy stryd teen Covid-19 verloor.  ~ Foto Verskaf

ROBERTSON. – Die Boland Rugbyunie en die plaaslike polisie het ’n groot gees verloor.

Konst. Jacro “Smittie” Smith (44) het sy stryd teen Covid-19 verloor.

Smith is sowat drie weke gelede in ’n hospitaal se hoësorgeenheid opgeneem, waar hy aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel was.

Gebede vir sy herstel het in die sosiale media uitgegaan, maar Smittie het Dinsdagaand gesterf.

Hy sal onder sy kollegas onthou word as ’n harde werker wat elke dag van sy lewe vriendelik was.

AO Johan Julies, wat jare saam met Smith op een skof gewerk het, het sy medelyde met die familie uitgespreek.

Julies sê dat Smith die laaste paar jare as hofordonnans gewerk het.

Wedstryde

“Hy was ’n referee wat in die Boland-streek rugbywedstryde hanteer het,” sê Julies.

Volgens Julies het Smith dit verkies om by die hof te werk, juis om op Saterdae wedstryde te kon bywoon.

Smith was ook baie lief vir sy groentetuin en het ook aan baie minderbevoorregtes van sy groente verskaf.

Hy het nog onlangs in ’n kompetisie ook ’n fiets gewen.

Julies sê hy en Smith het nog beplan om soggens te gaan fietsry om hulle fiks te hou.

Bennie van Rooi, president van Boland Rugby, sê Covid veroorsaak groot hartseer.

“Smittie het ’n goeie loopbaan as skeidsregter gevolg en was altyd betyds vir elke wedstryd,” vertel Van Rooi.

Van Rooi het Smith as ’n “no nonsense referee” beskryf.

“Hy laat ’n groot leemte. My innige meegevoel met sy kinders en familie,” voeg Van Rooi by.

Begrafnisreëlings is nog nie bekendgemaak nie.

Smith laat twee minderjarige seuns agter.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters