17 dae gelede
Ramaphosa maak die hekke oop
President Cyril Ramaphosa.
President Cyril Ramaphosa.  ~ 

SUID-AFRIKANERS was reg vir die ergste toe hulle hoor pres. Cyril Ramaphosa wil met almal praat. 

Maar Ramaphosa het Woensdag hoofsaaklik goeie nuus gebring. Die nuus wat die meeste gevier word, is hoofsaaklik dat die drankwinkels nou hul eie ure kan bepaal. Voorheen kon mense net van Maandag tot Vrydag van 09:00 tot 17:00 drank aankoop.  

Die ramptoestand wat op 15 November sou eindig, is verleng tot 15 Desember. Met die verlenging word die ingryping befondsing soos die Covid-19-ters, ook verleng. 

Die grense is ook heeltemal oopgemaak vir besoekers van alle lande maar onder streng maatreëls wat insluit dat mense moet kan bewys dat hulle 72-ure voor hul aankoms negatief vir Covid-19 getoets is. Die nuwe verandering het Woensdagaand in werking getree. 

Ramaphosa sê ondanks die verligtings is dit steeds kommerwekkend hoeveel mense aan Covid-19 verwante siektes gesterf het. Meer as 20 000 Suid-Afrikaners het reeds aan die virus gesterf.

Om die ontslapendes te betreur, is vyf dae van rou aangekondig. Ramaphosa het mense gevra om van 25 November tot 29 November swart armbande te dra. Oral waar die landsvlag hang, moet dit op die dae halfmas hang. 

Ramaphosa het ook mense gemaan om steeds waaksaam te wees wanneer hulle die festive ingaan. Hy sê hy weet mense sal graag wil kuier.

Hy raai ook mense aan om eerder in buiteplekke en in kleiner groepies te kuier as wat hulle in groot groepe en in toe plekke kuier.

Talle Suid-Afrikaners het die nuwe aanpassings verwelkom terwyl baie meen dat dit net die infeksiekoers verder gaan laat styg.  

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters