8 dae gelede
Provinsie deel sy entstof-plan
HULP: Die provinsiale regering se planne met die Covid-19-entstof is bekend.  ~ Foto’s ter illustrasie: Gallo iStock

DIE Wes-Kaapse regering het sy strategie klaar uitgewerk om die Covid-19-entstof beskikbaar te stel sodra dit verkrygbaar is.

In ’n persverklaring van die departement Woensdag sê hy dr. Zweli Mkhize, die nasionale minister van gesondheid, het te kenne gegee die eerste besending van 1,5 miljoen een­hede Covid-19-entstof sal die land eers teen einde Februarie bereik.

“Die strategie in die provinsie behels ’n indeling in drie fases,” lees die persverklaring.

Die mense na wie die regering eerste kyk, is die gesondheidsorgwerkers – ongeveer 100 000 in die provinsie. Dit sluit werkers in die openbare en privaat sektor in, asook gemeenskapsgesondheidsorgwerkers en studente wat in dié rigting studeer.

In fase 2 kyk die Wes-Kaapse regering na noodsaaklike werkers, mense wat in sorgsentrums werk, burgers ouer as 60 en almal ouer as 18 wat aan chroniese siektes ly.

In fase 3 sal lede­ van die publiek oor 18 jaar die entstof ontvang.

Die Wes-Kaap het ’n advieskomitee saamgestel wat wetenskaplikes en kundiges oor etiek insluit, om toesig te hou oor die proses.

Nog ’n belangrike element in die program is om ’n register saam te stel wat baie soos die kieserslys sal werk. Dit sal help om die inentingsproses te monitor.

Mense wie se naam in die register verskayn, sal ’n boodskap ontvang met ’n afspraaktyd, datum en plek.

Dié mense moet dan ook teken dat hulle toestemming gee om die entstof te ontvang.

’n Opvolgboodskap sal uitgaan vir die tweede dosis entstof.

Die nasionale gesondheidsdepartement het die ontwikkeling van ’n rekenaar­toepassing (app) vir hierdie proses voorgestel.

As die nasionale stelsel nie werk nie, sal die provinsie wel sy eie een as ’n backup hê.

“Hierdie gaan ’n reusetaak wees,” lees die provinsie se persverklaring.

Vordering

Die owerhede het intussen ook samesprekings begin hou met rolspelers in georganiseerde arbeid, die burgerlike samelewing, besighede, geloofsgroepe en ander relevante rolspelers.

Die provinsiale regering beloof in die persverklaring ook hy sal geloofwaardige, eerlike inligting oor die vordering met die inentingsprogram en die beskikbaarheid van entstof deel.

Intussen maan hy weer almal in die provinsie moet by die veiligheidsprotokolle hou ten einde die provinsie vir almal veiliger te maak.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters