Verlede maand
Profeet sê wat lê nog voor

“DIE Here gaan die hemel se sluise oopmaak en ons skoon was van die corona-virus.”

Só vertel ’n profeet van Scottsdene gister aan Son nadat hy ’n visioen gekry het oor die dinge wat nou in die land en ook in die wêreld aangaan.

Profeet John William Afrika (65) sê die Here stuur altyd aan hom visioene wanneer ’n groot ramp die land gaan tref.

Nou beplan Afrika om van vandag af vir 14-dae te vas en te bid dat die corona-virus moet stop.

Volgens Afrika gaan hy ná hierdie 14 dae van vas en gebed op sy ramshoring blaas – net soos daar in die Bybel se Ou Testamentiese tye gedoen was.

Hy gaan 14 maal 14 keer op sy horing blaas en sy stokstaaf na die hemelse uitspansel uitsteek.

Afrika glo vas daarna gaan die Here die reën stuur wat die mense van die corona-virus sal reinig.

Volgens Afrika was hy besig om sy Bybel te lees toe die Here vir hom ’n spesifieke teksvers in die Bybel uitwys en ’n visioen stuur. Afrika sê: “Terwyl ek die Bybel lees, het ’n helder lig verskyn wat my verblind het.

“Ek het op my knieë gegaan en ’n stem van ’n engel het met my begin praat. Die engelstem wou weet wat ek in my visioen sien. Ek het gesê dit is agt oorlogskepe wat ek op die see sien aankom na ons land se grense.

“Vier van die skepe het tot by ’n eiland gevaar en die ander vier het omgedraai.

“Een van die skepe het om die eiland gevaar en daar was ’n groot ontploffing.

“Ek het wakker geword waar ek op die bed sit met die Bybel in my hand. Ek dink die droom beteken dat iets groots besig is om in ons land te gebeur en ons moet waaksaam wees.

“Die mense hoef nie paniekbevange te wees nie, want die Here is in beheer en Hy gaan sy goeie werk doen.”

Geken

Hy vertel dat hy in die groot droogte van 2018 ook gebid het vir reën en toe het die hemel sy sluise oopgemaak.

Volgens Afrika het sy gebede 35 jaar gelede in die 198o’s tydens die droogte ook gehelp. Ná sy gebede het dit drie dae later katte en honde begin reën oor die hele dorre Suid-Afrika.

Maar Afrika besef ook dat ’n profeet nie in sy eie land geken word nie en hy weet dat baie hom nie hieroor sal glo nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters