25 dae gelede
Polisie skuif tydelik na skool oor Covid-19
Teslin Booysen.  ~ Son

DAAR is geen rede vir die gemeenskap om te panic oor die tydelike verskuiwing van die Algoapark-polisiestasie se gemeenskapsdienssentrum by die Reuben Birin Skool in Missionvale nie.

Só het Teslin Booysen, wyksraadslid vir Missionvale, gister aan Son gesê.

Dié tydelike skuif kom nadat een van die lede by die diens-sentrum positief getoets is vir Covid-19.

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig die gemeenskapsdienssentrum operate tans vanaf dié skool vir gehoorgestremdes in die Uitenhage-hoofweg.

Beïndruk

Volgens Naidu is die tydelike kontaknommer by die sentrum 082 303 1023.

Sy sê die nabygeleë Humewood-polisiestasie is in hierdie stadium operasioneel.

Booysen voeg by die dienssentrum by die skool is goed ingerig.

Volgens Booysen het hy net lof vir die personeel van dié polisiestasie omdat hulle pro-aktief opgetree het.

Hy is beïndruk met die spoed waarteen hulle gewerk het om die sentrum by die skool op te rig.

“Dit was a job well done om alles agtermekaar te kry.

“Die polisie se beplanning was baie goed.”

Volgens Booysen is daar geen ongerief nie, want daar is tans geen studente by die skool nie.

Gevaarlik

Eddie Alexander, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum in die Algoaparkomgewing, sê hy dink Missionvale met sy baie geweld is die ideale plek vir die oprigting van die sentrum.

Hy sê hy wil egter nie hê dit moet naby kinders wees of waar ’n skool betrokke is nie, want Covid-19 is baie gevaarlik.

Volgens hom sal dit die ideale ding wees om die sentrum weg van die skoolkinders af te hou.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters