2 maande gelede
Pay nou ook gelockdown
KWAAD: Athraah Pascoe en haar kolĀ­legas voel baie ongelukkig.  ~ Melinda Stuurman

“HOE gaan ons drie weke­ sonder geld sur­vive?”

Dis wat Robin Dryden (26) van Alnet in Epping wil weet.

Die maatskappy het sy mense eergisteraand ’n uur voor huistoegaantyd laat weet daar is nie geld nie.

Die boodskap is gestuur in ’n brief wat uitgereik is deur Louis Stander, HR- en IR-bestuurder van Alnet.

Daarin staan: “Die beginsel van geen werk, geen betaling geld gedurende die tyd van die lockdown vir alle werkers in Suid-Afrika as ’n besigheid sy deure moet toemaak.”

Verder lui die brief weens Alnet se finansiële situasie sal die maatskappy nie die werkers deur die 21 dae lockdown kan betaal nie.

Werkers het wel gisteroggend werk toe gegaan, maar hulle tools neergesit en geweier om ’n vinger te verroer.

“Hulle gaan ook drie van ons verlofdae vat. Hulle vat dit sonder permissie,” sê Shabekia Stemmet (59).

“Ons het nie gevra om drie weke by die huis te wees nie. As ons dit kon help, sou ons wou werk. Dis ’n wêreldding.”

Sactwu en die maatskappy het gister ’n vergadering gehou terwyl die mense buite rondgestaan het. Ná die vergadering is ’n tweede brief van Stander uitgereik.

Die brief lui: “Ons sal voortgaan met die Covid-19-aansoekproses dat Alnet-werkers vir die lockdown-tyd betaal word. Sodra daar betaling gekry word, sal die geld direk aan al die werkers gegee word.”

André Kriel van Sactwu sê: “Dis die employer se skuld dat die mense gestaak het. Die maatskappy moes nie die eerste memorandum uitgestuur het nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters