4 maande gelede
Paastyd bring dalk 3de golf
HERDENKINGSDAG: Die Wes-Kaapse gesondheidshoof, dr. Keith Cloete (links), en die provinsiale minister van gesondheid, dr. Nomafrench Mbombo, spreek die media gister by die Tygerberg-hospitaal toe.  ~ Anele Mfazwe

DIE moontlikheid van groot byeenkomste in die komende vakansiedae is ’n kopseer.

Só het die Wes-Kaapse gesondheidshoof, dr. Keith Cloete, gister op ’n perskonferensie in die Tygerberg-hospitaal gesê.

Cloete en die Wes-Kaapse gesondheidsminister, dr. Nomafrench Mbombo, het die media toegespreek op die herdenking van die provinsie se eerste Covid-19-geval, wat op 11 Maart laas jaar by dieselfde hospitaal bevestig is.

Cloete het gesê die inenting van gesondheidswerkers duur stadig voort weens vertragings by die vervaardigers.

As gevolg daarvan gaan dit onmoontlik wees om genoeg mense voor die winter in te ent om ’n derde golf te vermy.

Die aanvanklike plan was om die inentings al in April op dreef te kry, maar dit lyk nie asof dié doelwit bereik gaan word nie.

Cloete noem ook om die beplanning op koers te hou, moet die owerhede 30 000 tot 36 000 mense daagliks laat inent.

Volgens hom het die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement die entstof­vervaardigers Johnson & Johnson en Pfizer genader.

Die doel daarvan is om die nasionale inentingsprogram aan te vul.

Die vervaardigers het intussen teruggekom en laat weet die provinsie sal sy dosisse deur die nasionale regering ontvang.

Hy sê verder in die komende Paasvakansie kan groot byeenkomste die begin van ’n derde golf versnel.

Cloete voeg by: “Ons is bekommerd oor enige groot byeenkomste.

“Ons doen ons voorbereiding vir die derde golf met die gedagte dat dit net so erg soos die tweede golf kan wees.”

Son het Cloete vroeër aangehaal toe hy gesê het die pandemie se tweede golf was erger as die eerste ronde.

Vergeet

In die tweede golf het besmettings drasties vermeerder en gevolglik ook die hospitalisering en sterfgevalle.

Volgens Cloete het 11 319 mense, van wie 122 gesondheidswerkers, weens Covid-19 gesterf.

Mbombo het gesê gister was ’n spesiale dag omdat dit die anniversary is van die eerste Covid-19-geval in die provinsie by die Tygerberg-hospitaal.

“Ons sal nooit daai dag vergeet nie,” het sy bygevoeg.

Volgens dr. Mbombo het hulle sedertdien verskeie beplanningsvergaderings gehou waarop mense soos Cloete, wat die leisels op 1 April 2020 oorgeneem het, die stryd teen die virus beplan en die syfers dopgehou het.

Sy sê verder baie dinge het sedertien gebeur.

“Met die eerste geval in Khayelitsha is ons daarvan beskuldig dat ons nie vir die armes omgee nie,” onthou sy.

“Dit was só hartseer. Dit was alles net politics.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters