11 dae gelede
Ou oorwin pes, al is hy ’n diabeet
VOL GEES: Anthony McKenzie inspireer sy kollegas in die Tygerberg-hospitaal. FOTO VERSKAF  ~ 

ANTHONY McKenzie het van Covid-19 herstel en is baie bly om terug te keer na die Tygerberg-hospitaal, waar hy help om pasiënte tussen fasiliteite van dié reuse-kompleks te verskuif.

As hoof-portier maan hy sy kollegas om altyd die veiligheidsreëls teen die virus toe te pas. Hy sê hulle is sy heroes in dié tyd.

McKenzie van Wesbank is dankbaar vir sy gesin wat hom daagliks motiveer en voeg by: “Ja, daar is vrees, maar ek probeer ander help en happy maak, want hulle maak my ook happy.”

Hy is op 20 April ingelig dat hy positief getoets is vir Covid-19.

McKenzie het hom toe geïsoleer, baie gerus, baie water gedrink en medikasie geneem.

Rol

Hy vertel: “Omdat ek ’n diabeet is, was dit ’n baie moeilike tyd en was die vrees dat ek die stryd kan verloor, ’n werklikheid.”

Volgens McKenzie speel die bestuur by die hospitaal ’n baie belangrike rol om werkers in te lig oor die belangrikheid van personal protective equipment (PPE), hande was, social distancing en om in die algemeen na hulself om te sien.

Hy sê: “Ons is in ’n oorlog en almal aan dieselfde kant in die geveg teen die pandemie.”

Hy verduidelik dat die bestuur die maatreëls by hulle ingedril het met training sessions om die virus te leer ken en hoe om dit hok te slaan.

McKenzie sê werkers by die hospitaal moet hulself en ander beskerm deur die protokols te volg en voeg by: “Wees positief; ons is nie alleen in dié stryd nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters