12 dae gelede
Ou met Covid deel drukkies by werk uit
Stuurman Mogotsi is afgedank nadat hy wetend met Covid-19 by die werk opgedaag het.  ~ Foto ter illustrasie

'N SLAGTER van 'n nasionale vleisverskaffer is sy werk kwyt nadat hy positief vir Covid-19 getoets en steeds vir werk aangemeld het.

Stuurman Mogotsi het op 9 Augustus 2020 positief getoets en is die volgende dag werk toe. Beeldmateriaal wys dat hy 'n kollega met 'n harttoestand 'n drukkie gegee het en ook sonder 'n masker in die werkswinkel rondbeweeg het.

Die CCMA het bevind Mogotsi moet weer aangestel en net 'n finale waarskuwing gegee word. Die arbeidshof in Johannesburg het egter nou die besluit omgekeer.

Mogotsi het beweer sy werkgewer het nie duidelike instruksies gegee oor wat hy moet doen nie. Volgens hom het hy nie geweet hy moet self-isoleer nie.

Die CCMA-kommissaris het gesê Mogotsi se gedrag was "uiters onverantwoordelik", maar het bevind die maatskappy het afgewyk van sy eie dissiplinêre gedragskode en  prosedures deur hom af te dank.

Regter Edwin Tlhotlhalemaje van die arbeidshof sê die kommissaris se bevinding verbreek heeltemal van die getuienis en dat die dissiplinêre gedragskode net 'n riglyn was.

Volgens hom was Mogotsi se gedrag nie net onverantwoordelik en roekeloos nie, maar onbedagsaam en uiters nonchalant. - GroundUp


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters