15 dae gelede
Oorvol voertuie erge probleem vir werkers
VOORVAL: Een vrou is dood en talle ander beseer.  ~ Foto: News24

VOERTUIE propvol gelaai met plaaswerkers kan ook Covid­-19 aanry.

Bevestigde gevalle en Covid-sterftes styg in die laaste paar weke skerp en die Wes-Kaap is tans in die piek van die tweede vlaag van die siekte.

Jandré Bakker, woordvoerder van die Wes-Kaapse vervoerdepartement, verduidelik: “Oorlaaide voertuie hou ’n groter risiko van Covid-oordrag in, veral omdat regulasies toelaat dat openbare vervoer wat minder as 200 km reis 100% vol gelaai mag wees.

“Die klem het opnuut hierdie week op die vervoer van plaaswerkers geval nadat ’n vrou Dinsdagoggend in ’n ongeluk tussen Worcester en De Doorns dood is.”

Son het Dinsdag berig nog 37 plaaswerkers wat almal agterop ’n vragmotor gery het, is beseer toe die bestuurder tydens swaar reën beheer oor die voertuig verloor het.

Blootstelling

Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse minister van vervoer, het ná die voorval gesê: “Waar ’n werkgewer vervoer reël vir werkers, soos plaaswerkers, wat ’n noodsaaklike diens lewer, moet die werkgewer verseker dat nie meer as 50% van die kapasiteit van die voertuig oorskry word nie.

“Alle higiënemaatreëls om die blootstelling aan Covid-19 te beperk, moet ook nagekom word.”

Bakker voeg by dat oorlaaide voertuie ook kan bydra tot die verspreiding van en toename in Covid-ontsteking weens social distancing-probleme.

Hy sê: “Die departement sal deur die verkeersafdeling voortgaan om die regulasies toe te pas. Ons sal ook nie huiwer om op te tree teen dié wat voertuie oorlaai nie.”

Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, sê in ’n verklaring hy het die vervoer van agri-werkers met Madikizela bespreek.

“Ons doen ‘n beroep op die landbou-sektor om meer te doen om die veiligheid van hul werkers te verserker.

“Die vervoer van werkers op oop trokke is ’n groot bedreiging vir hul veiligheid. Ons almal moet hul veiligheid en waardigheid beskerm.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters