10 dae gelede
‘Ons shot dié’
hy’t ’n shot: Megan Mains ent dr. Elton Bruce in met Johnson & Johnson se Covid-19-entstof in.Foto’s: peter abrahams  ~ 

HOEWEL baie gesondheidswerkers nie die Covid-19-entstof wil neem nie, het 250 van hul kollegas Sondag by die Groote Schuur-hospitaal opgedaag om ingeënt te word.

Hierdie gesondheidswerkers meen dis noodsaaklik om die vaccine te kry sodat hulle hulself en hul pasiënte teen die gevreeste corona-virus kan beskerm.

Son het van ’n betroubare bron verneem sowat 46% van gesondheidswerkers het hul inenting met die entstof van die hand gewys.

Volgens dié bron het hulle vorms aan gesondheidswerkers gestuur om te sien wie daarin belangstel om ingeënt te word. Sowat 46% van die gesondheidswerkers het glad nie geregistreer om tydens die eerste rollout van die entstof ingespuit te word nie, sê die bron.

Staan tou: Gesondheidswerkers wag geduldig hul beurt af om ingeënt te word.

Son het met ’n verpleegster, Priscilla Arontjies, gepraat. Sy is een van die mense wat die gesondheidswerkers ingeënt het.

Volgens haar is dit ’n moet dat almal dit neem sodat die verspreiding van die corona-virus beperk kan word.

Arontjies het verduidelik: “As jy dit nie neem nie, sit jy met die risk en jy worry jy kan doodgaan van die virus.

“Ek dink die rede dat mense bang is om die vac­cine te neem is oor hulle die unknown fear.

“Dis ook as gevolg van ’n lack of knowledge.

“Die fear word in die sosiale media versprei.

“Mense moet die inligting rondom die vaccine leer.”

rustig: Warren Camealio, ’n paramedic, is heel opgemaak met sy inenting.

Nuwe

Dr. Elton Bruce het hom ook Sondag laat inent. Hy het aan Son gesê die Covid-19 vaccine is baie veilig.

Hy het toegegee hulle nie kan nog nie sê wat die langtermyneffek daarvan gaan wees nie oor dit nog ‘n baie nuwe vaccine is.

Bruce het bygevoeg dat dit elke mens se verantwoordelikheid as lid van die samelewing is om die entstof te neem.

Hy voeg by: “As almal dit neem, kan ons mekaar beskerm. Mense is bang om die vaccine te neem omdat soveel valse goed in die sosiale media versprei word.”

Volgens Bruce is die vac­cine vir almal bedoel, maar mense wat allergies is daarvoor, moet vanselfsprekend versigtiger wees.

Hy het gesê as mense ’n allergiese reaksie op die vaccine het, moet hulle eers uitvind watter bestanddeel die reaksie veroorsaak.

Bruce het gesê hy raai mense met chroniese siektes aan om ingeënt te word oor die corona-virus húlle die swaarste tref.

Dr. Rodney Esau is baie bly hy is een van die eerstes wat ingeënt is.

Hy sê almal moet dit kry sodat ons groep-immuniteit teen die virus kan opbou.

Aan sy sy: Madhuri Chavda ondersteun haar man, dr. Dinesh Chavda, toe hy sy eerste inspuiting met die Covid-19-entstof ontvang.

Minister

Esau het verduidelik: “Wanneer ons herd immunity het, kan ons terugkeer na die ou normaal.

Dr. Nomafrench Mbombo, Wes-Kaapse minister van gesondheid, was ook teenwoordig en het seker gemaak dinge verloop glad.

Mbombo sê dis baie belangrik dat gesondheidswerkers met chroniese siektes eerste ingeënt word.

Sy het nie kommentaar gelewer oor die baie gesondheidswerkers wat nie die shot wil hê nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters