7 dae gelede
Nurses is weer weg oor Ceres
STAAK: Verpleegpersoneel van die Ceres provinsiale hospitaal het gister weer buite die hospitaal betoog.  ~ Mark Mentoor

“ONS veiligheid is nie belangrik nie.”

Só kla verpleegsters van Ceres se provinsiale hospitaal wat gister weer gestaak het.

Hulle het Saterdag ook gestaak en is ontevrede oor die gebrek aan beskermingsklere (PPE) en die aantal Covid-19-gevalle by die hospitaal.

Hulle eis ook die hospitaal moet eers ontsmet word voordat hulle terugkeer werk toe.

Een van die werkers sê: “Ons voel onveilig in die werk. Die bestuur het ons liewer gedreig en geviktimiseer.

“Hulle gaan ons aankla oor dit ’n onwettige strike is en dit is no work, no pay.”

Nog ’n ontevrede verpleegster sê: “Ons het net vanoggend standpunt ingeneem. Hulle was veronderstel om die hospitaal oor die naweek te ontsmet. Ons gaan nie terug werk toe alvorens ons bewyse het die hospitaal is ontsmet nie.”

’n Bejaarde inwoner van Ceres sê: “Ek moet elke keer my chroniese medisyne by die hospitaal gaan haal. Ons almal moet in ’n gang sit en wag vir die medisyne.

“Hulle het belowe die chroniese medisyne sal tydens die lockdown by ons huise afgelewer word. Die verpleegsters moet beskerm word, want hulle is die mense wat na ons moet omsien.”

Nog een van die stakende verpleegsters sê: “Ons is ongelukkig oor die hospitaal nog nie van hoek tot kant ontsmet is nie. Die bestuur beweer die hospitaal is skoongemaak, maar ons soek bewyse.”

Skande

Volgens die ontevrede verpleegpersoneel is hulle vir toetse gestuur, maar hulle moet werk terwyl hulle vir hul uitslae wag.

Nog ’n verpleegster het laat hoor: “Dis ’n skande hoe hulle ons soms behandel.”

HIER: Verpleegsters is ontevrede oor die Covid-19-gevalle by die Ceres-hospitaal.

Die Witzenberg-streek is een van die Wes-Kaap se hot spots vir die corona-virus.

Volgens Sandra Maritz, woordvoerder van die gesondheidsdepartement, is dit net 12 personeellede wat gestaak het.

Maritz sê: “Die hospitaal is by twee geleent­hede al ontsmet weens die Covid-19-gevalle.

“Die personeel dring aan op ’n bewys van die ontsmetting wat deur ’n eksterne diensverskaffing verskaf is. Intussen word die dienste deur ’n beperkte personeel volgehou.

“Ekstra personeel word gereël sodat pasiënte steeds die beste sorg ontvang.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters