Verlede maand
‘Nog nie verby’
GEMENGDE GEVOELENS: Politieke partye reageer met versigtige optimisme oor vlak 1.  ~ Foto ter illustrasie: Gallo iStock

PRES. Cyril Ramaphosa het dalk die land se lockdown na vlak 1 afgeskaal, maar die corona-virus-pandemie is nog nie verby nie.

Só het politieke partye gister gemaan ure nadat Ramaphosa Woensdagaand die afkondiging gedoen het dat die land van Sondag middernag na vlak 1 sal beweeg.

Dié besluit is geneem nadat die besmettingsyfer en corona-verwante sterfgevalle die laaste paar maande aansienlik verminder het.

Ramaphosa het ook aangekondig die regering sal sy Covid-19-toetse landwyd opskerp.

Gedaal

Vuyani Pambo, nasionale EFF-woordvoerder, beweer die regering is nog nie heeltemal eerlik oor die Covid-19-syfers nie.

Volgens hom sal die besluit om die toetsing op te skerp weer na ’n toename in syfers lei.

“Natuurlik het die syfers die laaste tyd gedaal, want die regering het die toetse verminder,” voeg hy by.

“Noudat dit weer opgeskerp sal word, sal die syfers spring.

Misbruik

“Daarom doen ons ’n beroep op Suid-Afrikaners om self na hul gesondheid te kyk, want die corona­virus-pandemie is steeds hier.

“Die regering en die ANC het die pandemie en lockdown-periode misbruik vir massiewe plundery en daar is nog geen oortuigende poging om die geld terug te kry nie.”

Die DA-leier, John Steenhuisen, reken egter die land moes lankal na vlak 1 afbeweeg het.

Steenhuisen sê: “Hoewel dit te laat gekom het, verwelkom ons die verskuiwing na vlak 1 en veral die her­opening van ons internasionale grense.

“Ons doen verder ’n beroep op die regering dat die ramptoestand herroep moet word.”

Pule Mabe, woordvoerder van die ANC, verwelkom ook die verskuiwing na vlak 1.

“Ons is daarvan oortuig dat Suid-Afrikaners verantwoordelik genoeg is om nog alle voorsorgmaatreëls te tref en voort te gaan om die regte ding te doen om hul gesondheid en veiligheid te verseker.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters