Verlede maand
Missing uitslae toets geduld
KOMMER: Madelon Trantaal sê niemand kan haar nou sê wat van haar Covid-19-toets geword het nie.  ~ Theo Jeptha

’N VROU en haar gesin wat op 16 Junie vir Covid-19 getoets is, wag steeds op hul uitslae.

Die gewag van meer as 16 dae veroorsaak dat die vrou op die rand staan om haar werk te verloor.

Madelon Trantaal van Uitenhage sê haar man is op 13 Junie getoets.

Op 16 Junie het die verpleegsters na hul huis gekom en hulle almal getoets. Haar man se uitslag was positief. Hulle is toe gevra om by die huis in afsondering te gaan.

“Ek het nie eintlik simp­tome getoon nie. My kop was net baie seer en ek was ’n bietjie grieperig.

“Andersins is ons almal in die huis piekfyn. My man het ook al herstel van die corona-virus en hy is terug by die werk.

“Ons wag egter nou nog vir ons uitslae. Ons het die Covid-19-blitslyn al telkemale gebel.

“Hulle sê ná 14 dae kan ek teruggaan werk toe, maar my werk soek ’n bewys dat ek getoets is en dís die probleem.

Desperaatheid

“Ek was al intussen na die kliniek om te vra of ek nie ’n ander toets kan ondergaan nie, maar hulle weier en sê ek is klaar getoets. Nou waar is my resultate dan?”

Trantaal sê uit desperaatheid het sy die Covid-19- blitslyn weer gebel en gevra of sy op die sisteem is.

Selfs daar het sy in ’n doodloopstraat beland, want hulle het geen rekord van die toets wat op haar gedoen is nie.

Sy sê die hele affêre het haar angsaanvalle laat kry, want sy weet nie wat haar status is en of sy nog ’n werk sal hê nie.

Trantaal se bestuurder by die werk, Zadea Rhodes, verseker Trantaal haar werk is nie in die gedrang nie.

Rhodes sê egter dis belangrik dat hulle ’n bewys het van Trantaal se Covid-19-status.

“Dit is die prosedure wat ons by die werk volg,” het sy verduidelik.

Son het die Covid-19-blitslyn gebel. Iemand daar het gesê dit vat maksimum 72 ure voordat ’n persoon sy of haar Covid-19-status weet.

Trantaal wag egter al veel, veel langer as dit .

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters