24 dae gelede
Miljoen is dood aan Covid-19
PLAASLIK: In Suid-Afrika het Gauteng nou die meeste bevestigde gevalle en Covid-19-verwante sterftes.  ~ Melinda Stuurman

DIE wêreldwye dodetal weens Covid-19 het dié week 1 miljoen gestrike.

Suid-Afrika se internasionale grense open vandag gedeeltelik met internasionale vlugte wat weer hervat.

Dít nadat die land se grense einde Maart weens die wêreldwye pandemie gesluit is.

Die 1 miljoen-kerf wêreldwyd is bereik kort voor die heropening van die grense.

Teen gistermiddag was daar steeds 33,8 miljoen bevestigde gevalle wêreldwyd. Net meer as 25,1 miljoen het ten volle herstel, maar daar is steeds 7,6 miljoen aktiewe gevalle wêreldwyd.

Van die aktiewe gevalle is byna 66 000 in ’n ernstige of kritieke toestand in die hospitaal.

Suid-Afrika het in die laaste paar weke gesak van die 5de posisie van lande met die meeste gevalle in totaal tot in die 10de posisie.

Ons aktiewe gevalle is ook minder en Suid-Afrika lê nou 19de op dié lys.

Geen

Amerika het met 7,4 miljoen steeds die meeste bevestigde gevalle, gevolg deur Indië se 6,2 miljoen en Brasilië se 4,7 miljoen. Dié drie het in hierdie volgorde ook die meeste aktiewe gevalle. Amerika, Indië en Brasilië het gesamentlik 45% van die wêreldwye Covid-19-sterftes.

Sowat 22 lande en eilande rondom die wêreld het nog geen Covid-19-sterftes aangemeld nie. Dit sluit in die Vatikaanstad, Groenland, Laos, die Seychelle en Kambodja.

Op die Afrika-vasteland het Suid-Afrika die meeste gevalle, gevolg deur Marokko met net meer as 121 000 en Egipte met 103 000. Gesamentlik het dié drie lande 69% van die vasteland se meer as 35 700 Covid-19-sterftes aangemeld.

Op tuisbodem het Gauteng die afgelope week die Wes-Kaap verbygesteek met die meeste Covid-19-sterftes.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters