14 dae gelede
Mense soek jab voor koue hap
SIT EN WAG: Sarah Neus sê sy weet nie of sy hierdie winter nog haar Covid jab gaan kry nie.  ~ Mpumi Kiva

OUDTSHOORN. – Dit is wintertyd so ysig koud in hul hokkies dat hulle eerder buite bly as in hul blyplek.

Nou worry inwoners van die plakkerskampe in Kanaalweg en Endlovini dat Covid-19 vanjaar aan hul deur gaan kom klop.

En dít nog lank voordat ’n vaccine by hulle gaan uitsteek.

Volgens hulle is hulle veral diep geworry oor die bejaardes tussen hulle wat nog nie hul Covid-19-inenting gekry het nie.

Dit is swaarkry op jou brood as jy in dié gemeenskappe bly.

Elektrisiteit is ’n luukse wat geeneen van die inwoners ken nie.

As jy iets in jou maag wil hê, moet jy maar buite vuurmaak om te kook.

Inwoners sê omdat hul pondokkies van sink en plank aanmekaargeslaan is, kom gooi die son ook nie ’n draai in hul woonplekke nie.

Sarah Neus (61) van die Kanaalweg -plakkerskamp sê sy het vir die Covid-19 jab geregistreer. Maar sy weet nie wanneer sy die entstof gaan kry nie.

Neus het gesê: “Ons ou mense hier is vulnerable weens die omstandighede waaronder ons woon.

“Dit is baie onhigiënies hier en baie mense is siek met TB. As ons nie spoedig die jab gaan kry nie, gaan baie ander van ons ook siek raak.”

Lulama Grootboom (52) van die Endlovini-plakkerskamp beaam Neus se sentiment.

“Ons is al lank op die waglys vir huise.

“Nou moet ons ou mense nog wag vir hul jab ook. Ek kan maar net hoop dat dinge vinnig sal geskied.

“Hopelik nog voordat die weer erger raak,” sê sy.

Grootboom sê dit is reeds so koud snags dat baie van hulle nie kan slaap nie.

“Om hier te bly is ’n struggle. Ek wens dat die owerhede vir ’n slag aan ons kan dink,” het sy bygevoeg.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters