Verlede maand
Indië het meer as 4 000 Covid-sterftes op een dag
Indië kry 4 000 Covid-sterftes binne 'n dag.  ~ 

INDIË het vir die eerste keer meer as 4 000 Covid-19-sterftes op een dag aangeteken en meer state het Saterdag in lockdown gegaan in ’n desperate poging om die verwoestende nuwe golf te stuit. 

Die 4 187 nuwe sterftes het Indië se totale dodetal tot 238 270 gebring sedert die pandemie begin het. Daar is binne 24 uur nog 401 078 nuwe gevalle bygevoeg, wat die infeksies tot byna 21,9 miljoen geneem het. 

Kundiges, wat twyfel uitgespreek het oor die amptelike dodetal, sê die nuwe golf sal moontlik eers einde Mei ’n hoogtepunt bereik. Daar word toenemend gevra vir strenger landwye maatreëls. 

Rahul Gandhi, leier van die opposisieparty Indian National Congress, het ’n beroep op premier Narendra Modi gedoen om ’n nasionale lockdown in te stel.

Hy sê anders kan die verspreiding “verwoestend” wees vir Indië en ander lande. 

Die Karnataka-staat, wat die belangrike IT-sentrum Bangalore insluit, gaan van Maandag af ’n staatswye lockdown van twee weke binne in ’n poging om die verspreiding van die virus te stuit. 

Dié staat het meer as 48 000 gevalle op een dag bygevoeg met Bangalore, die tuiste van baie Indiese en internasionale IT-reuse, wat die swaarste getref is. 

Dié stad met sy nege miljoen inwoners, het in April 1 907 sterftes aan die dodelike virus gehad.

In die eerste sewe dae van Mei het dit meer as 950 sterftes aangeteken. ’n Gebrek aan suurstof en beddens vir kritieke sorg kry die skuld vir die dramatiese toename in die sterftesyfer. - Jacaranda FM 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters