8 dae gelede
Maskerlose mêrrim gepos
TIRADE OOR MASKERADE: Die vrou, gedoop Karentjie (regs), wil niks verstaan van masker dra nie.  ~ Foto Verskaf

DIT gons in die sosiale media oor ’n viral video waarin ’n vrou weier om ’n masker te dra en dan basies uit ’n winkel gesmyt word.

Die video, wat vermoedelik in Swellendam geneem is, het binne ure op amper almal se Facebook-blad beland. In die video loop ’n vrou by ’n koswinkel in om iets te bestel.

Die vrou het kwalik haar order ingesit toe ’n werker haar nader en vra hoekom sy nie ’n masker dra nie.

Die werker begin verduidelik dat sy nie in die winkel toegelaat kan word nie omdat dit nou wet is om ’n masker te dra.

Maar aanhou is mos tjoklits.

Die vrou, wat in die sosiale media “Karentjie” gedoop is, wil dan weet wie dié law gemaak het.

Toe Karentjie met die polisie gedreig word, begin sy ewe oor haar grondwetlike regte uitpak.

“Dis my grondwetlike reg om soos ’n normale mens suurstof in te asem!” sê sy.

Bebloed

Karentjie word dan uit die winkel gedwing, maar nie sonder dat sy ’n fight opsit nie.

Sy wil weer by die werkers weet of hulle robotte is dat hulle met ’n masker kan loop, want sy is ’n “normale persoon” wat sonder ’n masker suurstof inkry.

Die werker raak heel bebloed en begin die vrou beledig. Hy sak af: “Jou p**s, voertsek!”

Die persoon wat die video record, gooi dan ook haar twee sent in.

Sy lig Karentjie in dat sy deel is van die rede dat die corona-virus in die land is.

Dié woorde hang nog soos viral droplets in die lug, toe is Karentjie by.

Die twee vroue het woorde en die video-maker dreig om Karentjie te klap.

Ná byna 10 minute se heen en weer besluit Karentjie om weg te loop en merk op dat die werkers soos “ ’n klomp f*kk*n aasvoëls” is.

Die video, wat Dinsdagaand sy eerste verskyning gemaak het, het kykers verdeel.

Mense het baie uiteenlopend op die video gereageer.

Sommige mense voel Karentjie het nie mooi gemaak nie; ander ondersteun haar.

Mishandel

Heidi le Roux skryf in die sosiale media: “Die wet sê dra jou masker. As jy dit nie wil dra nie, bly by jou huis. So maklik soos dit.”

Maar Letitia van den Berg stem glad nie met Le Roux saam nie.

Sy voel die mans het Karen­tjie mishandel.

“ ’n Vrou wat deur mans rondgestoot word ...

“Dít op sigself behoort jou woedend te maak.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters