26 dae gelede
Maak maar gereed vir derde golf
WAARSKUWING: Die Wes-Kaapse gesondheidshoof, dr. Keith Cloete, sê die derde golf van die corona-virus kan binne twee tot drie weke inskop.  ~ Anele Mfazwe

WINTERTYD is virustyd en die derde golf van die pandemie gaan moontlik saamval met die begin van die inenting van mense ouer as 60.

Die Wes-Kaapse gesondheidshoof, dr. Keith Cloete, het gister ’n update gegee oor die huidige toestand van die pandemie en die stand van die provinsiale inentingsprogram.

Volgens Cloete het sowat 4 000 bejaardes sedert Maandag hul entstof in die Pfizer-inentingsprogram ontvang.

Hy noem verder dat die Wes-Kaap tans daagliks ’n stadige maar duidelike toename in nuwe positiewe Covid-19-gevalle ervaar.

Cloete verduidelik: “Ons het nog nie die derde golf bereik nie.

“Maar soos dinge staan, kan ons dit binne die volgende twee of drie weke bereik as ons die huidige tendense in ag neem.”

Geregistreer

Die Wes-Kaapse minister van gesondheid, dr. Noma­french Mbombo, voeg by dat die provinsie ook binne die volgende twee weke die Johnson & Johnson-entstof sal ontvang.

Haar verskoning vir hoekom die meeste bejaardes wat geregistreer het nog nie hul SMS’e ontvang het om hulle in te lig om die inenting te kom ontvang nie, is dat die gesondheidsdepartement wag op die Johnson & Johnson-entstof om afgelewer te word.

Cloete sê die feit dat die nuwe Covid-19-gevalle stadig styg, is omdat minder hospitaalopnames corona-virus- verwant is.

Volgens hom beslaan Covid-19-gevalle net net 5% van huidige hospitaalopnames.

Dit beteken egter nie dat die hospitaalbeddens leeg staan nie. Hy sê 95% van alle hospitaalbeddens is tans in gebruik.

Die meeste hospitaalopnames tans het te make met traumagevalle, sê Cloete verder.

Hy waarsku mense om versigtig te wees vir sosiale byeenkomste, aangesien so iets baie maklik ’n superspreader event kan wees.

Volg

Cloete herhaal dat die derde golf na verwagting nie so intens soos die tweede een sal wees nie, maar dit hang af van die mense se gedrag.

Cloete moedig mense aan om voort te gaan om ál die protokolreëls te volg.

Volgens die gesondheidshoof was daar nog geen ernstige gevalle van teenreaksies wat met die Pfizer-inentingsprogram gepaardgaan nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters