13 dae gelede
Ma sterf ná linge se geboorte
TRAGEDIE: Rozaan Gelderbloem November het weens Covid-19 gesterf enkele dae nadat sy die lewe geskenk het.  ~ Foto Verskaf

MOSSELBAAI. – Te midde van ’n driedubbele hartseer het ’n familie dubbele vreugde as ’n geskenk ontvang.

Rozaan Gelderbloem November (37) kon ten minste haar tweeling, Reece en Rylie, in die wêreld bring en hulle vir ’n week styf vashou voordat sy haar laaste asem uitgeblaas het.

November is laas Sondag in die George-hospitaal oorlede aan Covid-19.

Haar gebroke mamma, Rosemary “Rose” Plaatjies (58), vertel die geboorte van haar kleinkinders het baie vir haar oorlede dogter beteken.

“Sy was baie opgewonde en het uitgesien daarna.

“Dit wat gebeur het, is iets baie swaar en hartseer vir ons familie, maar ons is baie dankbaar vir ons miracle-babas.”

Antie Rose vertel die familie het oor die Kerstyd baie hartseer ervaar en die geboorte van Reece en Rylie was iets waarna almal uitgesien het.

“Soos ’n nuwe begin vir ons. Dís hoe ons gevoel het.

“Reece en Rylie is eers op 22 Februarie verwag, maar die Here het ’n ander plan gehad.”

Die ouma wat tans saam met die kleintjies se derra, Riaan, na hulle kyk, vertel meer oor hul harde tyd.

“Ons het Rozaan se pa op Boxing Day begrawe. Die Sondag het sy labour pains gekry en hospitaal toe gegaan.

“In dieselfde tyd dat sy hospitaal toe gegaan het, het haar skoonpa afgesterf.”

Plaatjies sê haar dogter het gesond in die hospitaal ingegaan en sy was reg om haar nuwe pienkvoetjies te ontmoet.

“Alles het glad verloop. Die babas is gebore. Hulle was gesond en het ál hul tone en vingertjies gehad.”

Die vreugde het egter net drie dae ná die geboorte in hartseer verander.

“Omtrent drie dae nadat sy die lewe aan my kleinkinders geskenk het, het sy gebel om te sê sy is Covid-positief.

“Ons het nog voice notes gestuur en sy het ’n gebed vir moeders vir my gebid.”

TROUDAG: Rozaan en haar hubby, Riaan, het enkele maande gelede afgehaak. Foto: Verskaf

Min te weet sou dit die laaste gesprek wees wat antie Rose met haar dogter sou hê.

Antie Rose sê daardie Sondag het sy die nuus gekry dat haar dogter ook voor die virus geswig het.

“Daai nuus het ons gebreek. Ons is steeds baie hartseer.

“As dit nie vir hierdie babas was nie, wat ’n seëning van die Here is, dan weet ek nie.”

Skenkings

Antie Rose beskryf haar dogter as iemand wat baie sag was en baie lief was om liefde te deel.

“Ons as familie wil net baie dankie vir almal sê wat hand uitgesteek het, veral Zaan se vriende.”

Enige een wat die familie met skenkings vir die babas wil help, kan antie Rose by 064 042 4304 bel.

’n Roudiens is gisteraand vir Rozaan gehou. Sy word Saterdag begrawe.

AG, MOEDER: Reece en Rylie moet nou sonder hul mamma grootword. Foto: Verskaf

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters