Verlede maand
Ma nie positive, 'artse hou dik'
TE SKIELIK: Dinah Blood is oorlede kort nadat sy van asemnood gekla het.  ~ Foto Verskaf

GRABOUW. – Die een oomblik kry sy ’n paniekaanval en 15 minute later sterf sy, al was sy blakend gesond.

Dinah Blood (77) se dogter, Helga Blood, beweer die dokters wil voorgee haar ma het die corona-virus gehad.

Maar sy glo anders.

Volgens Helga het die paramedics haar ma verlede Saterdagoggend van die stretcher laat val toe hulle probeer het om haar in die ambulans te laai.

Helga vermoed haar nek is tydens die proses gebreek.

Sy vertel: “My ma het ’n anxiety attack gekry toe sy nie asem kon kry nie.

“Ek het die ambulans 04:45 gebel en gevra dat hulle vir my ma ’n suurstofmasker moet kom opsit. Hulle daag toe eers 05:10 op.

Slym

“Ek het aan die ambulansman verduidelik dat my ma nie lug kry nie. Ek soek net suurstof.

“Hy het gesê hy sal self moet kyk. Hy klim toe uit met ’n klein swart sak, waaruit hy ’n stetoskoop haal en het dit op my ma se bors gesit.

“Hy sê toe aan my hy kan hoor dat daar slym op haar bors is en vra toe aan my ma wat fout is. Sy sê toe dat sy nie asem kry nie.

“Hy gaan haal toe die stretcher.

“Terwyl hy uitgaan, sak my ma in my arms neer.

“Hy kom toe terug en laai haar op die stretcher.”

Helga sê die volgende oomblik hoor hulle net ’n klapgeluid en sien dis haar ma wat op die grond lê.

Die paramedics skreeu toe vir hulle om te kom help, sê sy.

Volgens Helga het die paramedics haar ma hierna na die Grabouw-daghospitaal geneem.

Sy sê dit was skaars 15 minute later, toe sê die dokter haar ma het afgesterf.

Helga sê die dokter het aan hul familie gesê om die kamer te verlaat en dat hul begrafnisondernemer binne ’n halfuur haar ma se liggaam moet verwyder oor sy Covid-19 het.

Helga beweer: “Selfs nadat ’n toets gedoen is, het die dokters aanhou sê my ma het die corona-virus gehad en wou dit so aanteken op haar doodsertifikaat.”

Gehaas

Deanna Bessick, woordvoerder van die ambulansdienste, sê: “Toe die paramedics by die pasiënt opdaag, het hulle haar op die bed aangetref. Sy was kort van asem.”

Sy verduidelik: “Albei paramedics het hulle na die ambulans gehaas om suurstof en ’n stretcher te gaan haal. Toe hulle terugkom, kry hulle die pa­siënt op die grond.

“Op pad hospitaal toe het die pasiënt gesnak na asem.”

Bessick sê hulle kan bevestig die pasiënt is nie positief vir Covid-19 getoets nie.

Roché Butler, ’n woordvoerder van die departement van gesondheid, sê hulle sal die pasiënt se lêer nagaan en kontak met die familie maak om enige vrae te beantwoord wat hulle dalk nog kan hê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters