7 dae gelede
‘Los eers toets’
TOETSPLEK: Mense kan ook na hierdie sentrum by die Mediclinic Louis Leipoldt gaan.  ~ Peter Abrahams

MENSE mors onnodig geld op corona-toetse as hulle nie siek voel nie.

Dít is die mening van ’n dokter oor gesonde mense wat gaan vir toetse.

Dié dokter, wat anoniem wil bly, sê baie maatskappye stuur ook net hul werkers vir toetse en dit is nie nodig nie.

“As jy nie siek voel nie, moenie jou laat toets nie. Jy mors net geld. Laat toets jou eerder as jy siek voel.

“Ons kry ook maatskappye wat hul werkers onnodig stuur vir toetse. Mense is nie op hoogte van hoe die toetse werk nie.”

Op ’n vraag hoekom die Wes-Kaap se Covid-19-syfer so hoog is, sê hy dit kan wees dat die Wes-Kaap meer laat toets as ander provinsies, maar hier is eenvoudig baie gevalle.

By die Mediclinic Louis Leipoldt in Bellville het ’n beampte gesê mense moet PathCare-vorms by hul dokter kry om hulle te verwys om getoets te word.

Volgens Mark van der Heever, mediawoordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het hul departement riglyne bekend gemaak oor wat bestuurshoofde moet doen as daar gevalle van Covid-19 in die werkplek is.

“Elke sektor en werkgewer moet sorg dat sifting en moontlik toetsing plaasvind.

“Sifting is ’n daaglikse taak vir alle werkers. Dis eers nodig om te toets as die sifting positief wys vir die simptome.

“Die fokus is daarop om die mense wat die weerloosste is, te beskerm.”

Van der Heever sê laboratoriums van die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS) en die private sektor is tans onder kwaai druk.

Skemas

“Tot op 13 Mei het die Wes-Kaap ’n agterstand van nagenoeg 11 000 toetse gehad. Maar die syfers verander gereeld.

“Die departement het die NHLS versoek om uitslae vinniger beskikbaar te stel.”

Toetse is gratis as ’n dokter jou verwys.

By plekke soos PathCare kos dit R850. Sekere mediese skemas betaal dit ook.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters