Verlede maand
#KYK: Lindiwe maak Kaapse draai
VEILIGHEID EERSTE Lindiwe Zulu sê landsburgers moet net soos die regering verantwoordelikheid neem.  ~ Jonathan Lestrade

“VAT die dienste na die mense toe.”

Dít was Donderdag die wyse woorde van die nasionale minister van maatskaplike dienste, Lindiwe Zulu.

Sy het gister in Kaapstad besoek afgelê by die Sassa-kantore wat vroeër dié week brandpunte was van massas mense wat saamdrom om vir grants heraansoek te doen.

Gevaar

Zulu se fokus was op diensleweringsprobleme om mense te help met aansoekprosesse en om seker te maak almal kom die aangepaste Covid-19-regulasies op vlak 3 na.

Son berig al die hele week oor massas mense wat by Sassa se kantore opdaag waar geen sosiale distansiëring nagekom word nie en sodoende almal in gevaar stel om die virus op te doen.

“Ek het ’n beter idee van wat gebeur nadat ek ’n brief van Sassa ontvang het,” sê Zulu nadat sy met Sassa- personeel by die Strandstraat-kantoor in Kaapstad vergader het.

“Hier by dié kantoor is daar nie dieselfde stampede soos daar in ander gebiede is nie. Dus is dit duidelik dat ons sekere dinge anders moet doen om te reageer op die gebiede wat blykbaar te veel mense het,” sê sy.

Zulfah Davids sê dis die tweede keer dat sy in die ry staan om gehelp te word. Sy het gister by die Strandstraat-kantore opgedaag waar sy aansoek doen vir haar toelae.

“Ek kan nie anders nie, so ek moet maar geduldig wees,” sê sy.

Intussen was Hescke Raubenheimer nie so geduldig nie.

“Ek het hier geslaap vannag, maar is nog nie gehelp nie. Ek word moeg van so op en af stap en wag.

Saamwerk

“Die mense maak nie reg nie. Hulle vergeet van ons. Dinge moet verander,” sê hy.

Zulu sê dis belangrik dat haar departement, Sassa, die provinsiale regering en die Stad Kaapstad saamwerk om ’n oplossing te vind, want dit gebeur nie in die hele Wes-Kaap nie, maar in die Kaapse omgewing.

“Ons moet saamwerk om alternatiewe te vind soos in die verlede waar ons gemeenskapsale gehad het wat Sassa kon gebruik.”

Sy sê Covid-19 het almal gedwing om vinniger en beter te dink, en maniere te oorweeg om beter diens te kan lewer.

“Ons moet gaan kyk waar daardie sale is wat ons voorheen gebruik het.

“Sommige van hulle is as hospitale gebruik as gevolg van Covid-19.

“So, ons moet by die Stad Kaapstad uitvind waar ons hierdie sentrums kan hê sodat ons die las kan verlig en mense die diens gee wat hulle benodig,” sê sy.

GEDULDIG: Zulfah Davids sê sy sal maar net staan en wag totdat iemand haar uiteindelik help. Foto: Jonathan Lestrade

Zulu sê die departement en Sassa moet ook na ander maniere kyk sodat ma’s en hul babas nie in die rye hoef te staan nie.

“Ons kan byvoorbeeld ’n stelsel skep waar ma’s aansoek kan doen vir ’n toelae terwyl hulle in die hospitaal is. Dan hoef hulle nie tot by die kantore te kom nie.

“Kom ons kyk na nuwe maniere om dinge te doen en die dienste vir mense te gee sodat mense nie in lang rye staan nie en ons die stres van travel wegvat.”

Zulu sê nes die regering moet burgers ook verantwoordelikheid aanvaar as dit by ons gesondheid kom.

Beskerm

“As jy jou huis verlaat, moet jy ’n masker dra en ontsmettingsmiddel hê.

“As jy by ’n plek kom waar daar ’n ry is, moet jy by die social distancing handhaaf en in gedagte hou dat jy in ’n ry staan en jouself moet beskerm.”

Die minister besoek vandag Eersterivier en Bellville.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters