8 dae gelede
Lewe swaar ná Covid als vat
SUKKEL: Nozibele Mywabe sit op straat nadat sy haar werk weens Covid-19 verloor het.  ~ Mpumi Kiva

’N JONG vrou wat nou op straat bly, sê Covid-19 het haar hele lewe deurmekaar kom maak.

Nozibele Mywabe (30) dwaal nou deur die strate van die township Bhongolethu in Oudtshoorn en bly al vir meer as vyf maande op straat.

Sy het op ’n oop stuk grond gaan bly nadat sy haar werk in die restaurantbedryf verloor het.

Mywabe wil nou hê die plaaslike departement van menslike nedersettings moet haar van materiaal voorsien sodat sy ’n ordentlike dak oor haar kop kan hê.

Volgens Mywabe het sy haar job van die afgelope vyf jaar verloor terwyl die land op vlak 5 van die nasionale lockdown was.

Sy moet nou kos op ’n oop vuur kook en komberse ophang as sy haar wil was.

Hartseer

Sy vertel: “Nadat ek my werk verloor het, kon ek nie meer my rent bekostig nie. Ek moes noodgedwonge op straat kom bly.

“Die lewe is moeilik hier. Niemand verdien om op die vlaktes te bly sonder ’n dak oor die kop nie.

“Wanneer dit reën, is ál my komberse nat en saans is daar ook kriminele wat my wil beroof.”

’n Plaaslike gemeenskapsleier, Felix Momberg, sê dit is hartseer dat Mywabe in sulke omstandighede moet bly. “Dit is nie veilig vir ’n vrou om in sulke omstandighede te bly nie.”

Morena Douse, die hoof van die plaaslike departement van menslike nedersettings, kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters