20 dae gelede
Leerders terug by Paarl Gim ná ontsmetting van skool
TERUG: Paarl Gimnasium se leerders is weer by die skool ná ’n ekstra lang langnaweek.  ~ Netwerk24

DAAR is geen harde lockdown by dié spogskool in Paarl nie.

Paarl Gimnasium se deure is weer oop nadat dit oor die langnaweek deeglik ontsmet is.

Só sê Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD).

Hammond sê die skool is Vrydag gesluit om seker te maak die plek word heeltemal skoongemaak.

“Die leerders het vandag (Dinsdag) teruggekeer en skool gaan aan soos dit moet.”

Hammond sê net vier onderwysers en twee leerders wat positief getoets is, is nog in isolasie.

“Die meerderheid leerders wat positief getoets is, is terug.”

Son het laas week berig 11 mense (leerders en onnies) is reeds positief getoets.

Aangemeld

Son het verneem nege onderwysers het die virus onder lede. Daar word ook bespiegel dat die virus wyd onder kinders in Paarl versprei het.

Talle ander skole in die Boland-omgewing het positiewe gevalle aangemeld. Die skole is onder meer Laerskool Vlottenburg, Laerskool Courtrai en Joostenberg Primêr.

Hammond sê die departement van gesondheid het verskeie praatjies met die leerders by Paarl Gim gehad.

“Die toename in Covid-19-gevalle by skole weerspieël die toename in die Wynland-distrik soos die departement van gesondheid reeds genoem het.”

Sy sê die WKOD monitor alle skole. Sy sê hulle is ook voortdurend betrokke in gesprekke met die gesondheidsdepartement se amptenare.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters