2 maande gelede
Lang rye gee die oues al hulle dae
Die rye by betaalpunte was baie lank.  ~ Foto ter illustrasie

GISTER met die Sassa-uitbetalings het die publiek die regering se voorgeskrewe social distancing measures verbreek.

Dié maatreëls is vir mense se eie veiligheid ingestel om die verspreiding van die corona-virus te try beperk.

Buite die Cleary Park Mall het mense styf opmekaar in lang rye gewag.

Christian Martin, Khoi-San-aktivis, het gister aan Son gesê sowat 8 uit 10 lede van die publiek wat buite die sentrum gewag het, het darem maskers gedra.

Maar volgens hom het die masker op hulle ken gehang omdat hulle gerook en/of met ander mense gesels het.

Een vrou, Mary Bartness, het laat gister­oggend inmekaargesak toe alles net te veel vir haar geword het.

Toe Son gisteroggend by die sentrum opdaag – nog voordat Bartness flou geraak het – het mense reeds in lang rye buite gestaan.

Van die mense wat gister hulle oumens-pay moes kry, het gesê hulle wag al van 05:30 by die sentrum.

Twee ooms met wie Son gesels het, het later besluit om maar sonder hulle AllPay terug te draai huis toe.

’n Moedelose bejaarde oom het aan Son gesê sy mense sit by die huis en wag dat hy iets te ete bring.

Volgens hom het hulle nou niks kos op die tafel nie.

“Wat van in die week nog?”

Dawid Saul (65) van Arcadia het ook besluit om liewer terug huis toe te gaan.

Nog ’n bejaarde wat bitter upset was, het gesê: “Op die TV sien jy die mense staan in rye.

“Hier staan ons soos boemelaars en word nie as grootmense gereken nie.”

Hy was die hel in omdat die jong mense wat kom pay het vóór die oumense staan.

“Ek voel ongelukkig. Hier is geen orde nie.”

Nog ’n oom met wie Son gesels het, het ook reeds 06:00 by die sentrum begin wag.

Hy het gesê: “Ek voel nie lekker nie.

“Ek het nie geweet dit gaan só sleg wees nie.

“As jy naby die ingang is, stoot hulle jou weer terug agtertoe. Ek gaan nou maar huis toe. Ek raak honger.”

Ingestorm

Minute voordat Bartness flou geraak het, het ’n security guard die mense in drie rye opgedeel voordat hulle in by die sentrum kon gaan.

Son se fotograaf op die toneel het gesê toe die ingang by die Pick n Pay-gedeelte van die sentrum laat gisteroggend oopmaak, het die mense ingestorm.

Bartness het voor in die ry gestaan, maar net daar by die ingang inmekaargesak.

Security het haar toe aan haar hande en voete verder die sentrum ingedra.

’n Soldaat het dit toe goed-gedink om uit sy eie sak vir haar ’n asmapompie te gaan koop.

Nadat Bartness gestabiliseer is, het sy huiswaarts gekeer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters