14 dae gelede
Kwarantyn vir vele ná 4 pes kry
KAMPVEGTER: Vanessa le Roux, stigter van Parents Against the Opening of Schools, voel vir die kinders wat in isolasie is.  ~ Peter Abrahams

CERES. – Nog twee leerders van die Senior Sekondêre Skool Witzenberg is positief getoets vir Covid-19.

Dit bring die totale getal leerders wat positief getoets is vir Covid-19 nou op vier te staan. Die vier is in isolasie geplaas.

Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), sê die provinsiale gesondheidsdepartement (WKGD) is ingelig oor die situasie.

Hammond sê die WKGD het hulle aangesê om sommige leerders in die koshuis en personeel in kwarantyn te plaas. Sowat 60 leerders is tans in kwarantyn.

Getref

Sy sê die ouers is ingelig en het hul goedkeuring gegee en waardering uitgespreek vir die besluit om die kinders in kwarantyn te plaas.

Hammond sê die reëling is getref voor pres. Rama­phosa se aankondiging oor die sluiting van skole.

Sy sê: “In ’n gesprek met die skoolbeheerliggaam het die WKGD en ouers besluit om met die reëling voor te gaan, selfs met die skole wat gesluit is.”

Hammond sê die WKGD monitor die situasie en die uitslae is steeds uitstaande.

Vanessa le Roux, stigter van Parents Against the Opening of Schools, sê dit is hartseer dat die kinders deur dít moet gaan, veral vir die ouers wat nie in kontak kan kom met hul kinders nie.

Le Roux sê: “Dit is ’n koue ding om deur te gaan.

“Van ons kant af gee ons die ouers ondersteuning gedurende hierdie moeilike tyd wat hulle en hul kinders moet deurgaan.”

Intussen het Le Roux, die vroue-aktiviste van Witzenberg Justice Coalition, ander organisasies en gemeenskapslede saam gekom en skenkings aan die koshuismoeder oorhandig.

Le Roux sê: “Ons doen dit om die kwarantyn vir die ouers, die kinders en vir almal draagliker te maak, veral vir die leerders.”

Le Roux sê hulle het met ’n knop in hul keel buite die koshuis-hek gestaan omdat dit so ’n emosionele ervaring vir beide die ouers en kinders is.

Beroep

Sy sê: “Ons weet nie of hulle oukei is nie, maar ons hoop hulle is veilig.”

Le Roux doen ’n beroep op die publiek om skenkings van toiletries en sanitary towels vir die leerders te maak.

  • Enige iemand wat wil bydra, kan Le Roux bel by 062 073 8839.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters