5 dae gelede
Kry ’n vaccine, sê eerw. Nissen
Regte: Eerw. Chris Nissen doen ’n beroep op mense om hul so gou moontlik teen Covid-19 te laat inent.  ~ Jonathan Lestrade

“DIT is een van daardie versperrings tussen die dood en die lewe.”

So sê eerwaarde Chris Nissen, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, wat mense aanmoedig om die vaccine te kry.

“Ons mense moet gaan vir die entstof. Dit is hul keuse, maar ek sal alles doen om hulle aan te moedig om die entstof te kry omdat ek te veel mense sien sterf.

“Die entstof is soos enige ander vaccine onder streng regulasies getoets. Dit is hoekom ek so ver moontlik mense aanraai om die vac­cine te kry,” sê hy.

Nissen sê elke persoon het die reg om te sê wat in sy of haar liggaam ingaan. Hy gee ’n voorbeeld van wanneer ’n hof beslis oor ’n mens se reg oor sy liggaam.

“Daar was ’n hofsaak waarin ’n man in sy been geskiet is. Die koeël het in sy been vasgesit, maar omdat dit deel was van die bewyse, het die hof beslis dat dit verwyder moet word.

“Ja, jou reg tot gesondheidsdienste en jou reg oor jou liggaam, is baie belangrik. Maar as jy in gevaar is, sal die hof besluit.

“In die geval met die vaccine en die entstof-sertifikaat het die regering nog nie besluit dit moet afgedwing word nie. Ons kom uit ’n situasie waarin vroue in die verlede in die 60’s en 70’s sonder hul toestemming gesteriliseer is.

“Ten minste word mens se toestemming gevra, maar wat ons kortkom, is ’n volhoubare veldtog om mense in ’n goeie gees aan te moedig om die entstof te kry,” meen hy.

Nissen sê al het jy jou eie menings rondom die entstof, moet mense nie daardie gedagtes op iemand anders plaas nie.

“Ons sê nie die vaccine is die ultimate nie, maar alles moet gedoen word om die virus in sy spore te stuit.

“Dit is jou reg om ’n keuse te maak, maar moenie ander mense te na kom wat hulle reg wil uitoefen nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters