Verlede maand
Kraam nou ’n bekommernis
’N STRYD: Covid-19 het gemaak dat vroue nou selfs meer hare op hul tande moet hê as dit by kraam kom.  ~ Netwerk24

KRAAM was nog nooit speletjies nie, maar met Covid-19 het die proses by bevallings nou heeltemal verander.

Wat veronderstel is om die gelukkigste dag van jou lewe te wees, het nou in ’n dag van bekommernis vir nuwe mammas ontaard.

Een ding waarop ma’s heel waarskynlik altyd kon staatmaak, is dat daar ondersteuning reg langs jou was om jou aan te moedig.

Daar was ook die waarborg van ’n bekende gesig en stem om jou te kalmeer terwyl jy vir die eerste skreeu wag.

Met die pandemie is dié ondersteuning weggevat.

Daar is ook die bekommernis dat die ma die virus kan optel en nie haar baba kan vashou nie.

’n Nuwe mammie van Mitchells Plain, Monique Tissong, vertel van haar onlangse kraamervaring.

Tissong het toe haar eerste baba gehad en beskryf die ervaring as emosioneel uitputtend.

“By die een hospitaal is ek gesê geen partners word toegelaat nie, maar by die ander kon my man inkom.”

Pyn

Tog het Tissong alleen deurgedruk omdat sy aan die veiligheid van ander ma’s en babas gedink het.

Tissong sê sy moes deurgaans ’n masker dra.

“Dit was nogal baie moeilik. Ek was in soveel pyn en dit was vuurwarm, maar ek moes maar deur ’n masker skreeu.”

Sy vertel van ma’s wat in ’n ander ward was wat nie die gesigte van hul geliefdes kon sien nie en ook nie die eerste oomblikke saam met hul baba kon ervaar nie.

“Ek was sad toe ek my man moes video call om ons baba vir die eerste keer te sien, maar dan dink ek aan die ma’s wat nie eens hul babas kon vashou nie of wat huis toe moes gaan sonder hul babas omdat hulle positief vir corona getoets is.

“Hulle moet by die huis isoleer en terugkom wanneer hulle beter voel.”

Son het gister oor Nosipho Nkantini van Eersterivier berig wat eers ná 13 dae haar babatjie ontmoet het.

Nkantini, ’n nurse, is positief getoets en moes vir ’n noodkeisersnee gaan toe sy nog net 25 weke swanger was.

Nkantini moes sonder haar baba huis toe gaan.

Sy doen ’n beroep op die publiek om Covid-19 ernstig op te neem en alles moontlik te doen om die verspreiding daarvan te voorkom.

“Ek is ’n professionele verpleegster en omdat ek ’n hoë risiko vir ernstige Covid-19 gehad het oor ek ’n diabeet is, het my werkgewer my na ’n kantoorrol geskuif waar ek deel van die op­sporingspan was.

“Die virus beweeg so vinnig en dit kan verwoestende gevolge hê. Ons moet mekaar beskerm deur ál die reëls te volg.”

Dan is daar die tragiese stories van Rozaan Gelderbloem November, Anishca Morris en die nurse Juariah Ebrahim wat hul lewe weens Covid-19 verloor het.

Gevaar

Mark van der Heever, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, sê die Groote Schuur- en Mowbray-hospitaal maak voorsiening vir swanger vroue wat Covid-19 het.

“Ons span spe­sialiste bepaal of swanger vroue in gevaar is van die slegte nagevolge van Covid-19, maar daar is nog nie resultate uit oor presies hoeveel Covid-positiewe verwagtende ma’s daar mee gedeal word nie.

“Ons het Covid-19-positiewe swanger vroue in die eerste en tweede golf gehad. Die hospitaal voorsien gepaste isolasie en volg alle veiligheidsmaatreëls.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters