Verlede maand
Konkoksies is vir baie toksies
Maria Stuurman van Missionvale skrik nie vir die sterftes nie. Sy sê sy drink nou al vyf jaar haar tuisgemaakte konkoksie, en sy het nog nie siek geraak nie.  ~ Mkhuseli Sizani

IN DIE Oos-Kaap ding Covid-19 met tuisgemaakte bier mee as dit by sterfgevalle kom.

Hoewel die corona-virus tans met sowat 70 sterfgevalle in die provinsie voorloop, is die brou van tuisgemaakte bier letterlik ook besig om ’n killing te maak.

Tot dusver het 17 mense weens die tuisgemaakte brousels omgekom.

Die Amahlathi-munisipaliteit staan voor in die koor as dit by sterftes weens hierdie konkoksies kom.

’n Brouer van Frankfort is hierdie week gearresteer nadat 10 mense na bewering as gevolg van sy brousels dood is.

Die brousels is na bewering ’n mengsel van brandspiritus, koffiesakkies en ’n energiedrankie.

Die 17de slagoffer is dood nadat hy na bewering ’n mengsel van gemmerbier, Coke en brandspiritus gedrink het.

Verwyder

Die burgemeester van die Amahlathi-munisipaliteit, Agnes Hobo, sê die dodetal in haar streek weens die brou van bier by die huis staan tans op 13.

Volgens haar is die jongste slagoffer in haar 30’s.

Sy is Woensdagaand oorlede. Teen gister is daar volgens Hobo nog gewag dat haar lyk verwyder word.

Die vrou se man en een van hul bure is inderhaas na die Stutterheim-hospitaal geneem omdat “hulle ook van die brousel gedrink het.

“Hulle het siek begin raak nadat hulle van hoof- en rugpyne begin kla het.”

Hobo sê die twee kla ook van maagkrampe en dat hulle dronk in die kop voel.

Sy sê voorts die slagoffers het ’n mengsel van gemmerbier, brandspiritus en gis wat gewoonlik in die maak van umqombothi gebruik word, bymekaargeflans.

“Die polisie het die brouer van hierdie nuwe mengsel gearresteer.

“Die munisipaliteit het intussen aangebied om te help met die begrafnis­koste van al die slagoffers,” voeg die burgemeester by.

Volgens haar het hulle ook die eienaars van spaza-winkel gevra om brandspiritus van hul winkelrakke te verwyder.

Nege ander mense word ook op die oomblik in die Stutterheim-hospitaal behandel nadat hulle tuisgemaakte brousels gedrink het.

In King William’s Town het vier mense gesterf weens die bierbrousels wat hulle self gemaak het.

Bevestig

Drie van die slagoffers was van een gesin.

Sizwe Kupelo, woordvoerder van die provinsiale departement van gesondheid, het hierdie voorvalle bevestig.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters