Verlede maand
Kom vir jab, pleit leiers
Veiligheid: Adam Hounslow (59) van Woodlands is een van die mense wat gister hul eerste inenting by die Westgate Mall in Mitchells Plain ontvang het.  ~ Anele Mfazwe

“KOM kry asseblief jou inenting.”

Dís die pleidooi van die Wes-Kaapse minister van gesondheid, dr. Noma­french Mbombo, aan inwoners van Mitchells Plain.

Mbombo en ander beamptes en kerkleiers van dié area was gister by die Westgate Mall om mense aan te moedig om hul jabs te gaan kry.

Volgens Mbombo het die Mitchells Plain-distrik een van die laagste syfers vir die registrasie vir en inenting met die entstof.

Mbombo sê sy is veral bekommerd oor die bejaardes wat nog nie geregistreer het nie.

Sy vra mense om nou gebruik te maak van die geleentheid om hul jab te kry om later ’n moontlike rush te vermy.

Mbombo sê: “Die regering merk ook nou op dat daar in ander lande gevra word vir ’n inentingspaspoort.

“Wat gaan later gebeur as daar gesê word jy moet bewyse van inenting wys sodat jy by die kerk kan ingaan of voordat jy by ’n seniorklub kan ingaan?

“Daarom sê ons gryp hierdie geleentheid, want jy sal nie nou weet dat daar dalk ’n tyd sal kom wanneer dit verpligtend sal wees om ingeënt te wees nie.”

’n DA-LPP, Ricardo Mackenzie, sê: “Ons het alles gedoen om mense te kry om hul jabs te kom vat – niks werk nie.

Bang

“En baie van die redes hoekom mense nie na vore kom om ingeënt te word nie, het met fake nuus te doen.

“Ons wil hê mense in die area moet ingeënt word, want baie van die mense is hoërisiko-individue, mense ouer as 60.

“Ek is baie bang vir ’n moontlike vierde vlaag, want as Desember aanbreek, gaan mense weer oor en weer by mekaar begin kuier. Dis hoekom ons van deur tot deur gaan om mense ingeënt te kry.”

Adam Hounslow (59), ’n inwoner van Woodlands, was een van die mense wat gister hul inspuiting gaan kry het.

Hounslow sê: “Ek is hier om te bewys dat niks met my gebeur het nie en om te wys dat dit cool is om dit te doen.

“Mense moenie bang wees nie. Ek het van die fake news gehoor en in die begin was ek ook skepties gewees.

“Ek het egter ná ’n tyd besluit ek moet dit doen om veilig te wees en om beskerm te wees.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters