12 dae gelede
Klub-jol wys virus bly lol

DIE Wes-Kaapse regering is versigtig om nóú al uitsprake te maak oor ’n “tweede golf” Covid-19-infeksies, maar sê die onlangse uitbreking in die suidelike voorstede is beslis ’n wake-up call.

Dr. Melvin Moodley, die direkteur­ van strategie­ by die provinsiale­ gesondheidsdepartement, het Donderdag op ’n digitale konferensie gesê die effense styging in daaglikse getal besmettings is ’n bron van kommer.

“Ons kan nie ’n besliste uitspraak gee nie, maar ek stem saam met premier Alan Winde en die minister (dr. Nomafrench Mbombo) dat ons nog nie heeltemal veilig is nie. Ons het ’n wekroep gekry en hoe ons daarop gaan reageer, gaan deurslaggewend wees.”

Altesaam 89 nuwe besmettings in die suidelike voorstede kon die afgelope week teruggespoor word na ’n partytjie in ’n Kaapse nagklub. Van daardie gevalle is 49 leerders en 38 van hulle is in matriek.

Altesaam 65 nuwe gevalle is by agt skole in die suidelike voorstede geïdentifiseer.

’n Onderwyser is een van die mense wat Covid-19 onder lede het en 44 van dié leerders is in matriek.

Die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement het daarop gewys dat die getal aktiewe gevalle in die suidelike- en westelike voorstede in die tydperk van 13 tot 23 September vanaf 287 tot 557 gestyg het. Altesaam 35% (195) van dié mense is tussen 15 en 25 jaar oud.

Moodley sê in Beaufort-Wes is onlangs ook ’n plaaslike uitbreking opgemerk en dit word gemonitor.

Winde sê die sleutelprioriteit van die provinsie is om ’n tweede golf besmettings te voorkom.

Individu

“Die hoofboodskap is ons sien ’n styging in die getal gevalle op die plekke waar ons oorgerus raak.

“Ons moet seker maak almal in die provinsie hou dit in gedagte. Die verantwoordelikheid van elke individu is uiters belangrik.”

Dr. Keith Cloete, Wes-Kaapse hoof van gesondheid, sê dis belangrik om die volgende 18 tot 24 maande ’n sterk fokus op waarneming en bekamping te behou.

  • Die ramptoestand is tot 15 November verleng.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters