Verlede maand
Klagte teen gesondheidswerkers
Brig. Vish Naidoo  ~ Foto Verskaf

KLAGTE van openbare geweld word nou teen betogende gesondheidswerkers by die Bongani-hospitaal in die Vrystaat ondersoek.

Dit nadat hulle Dinsdag die ingang van die hospitaal afgesper het.

Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, sê geen beserings is aangemeld nadat die polisie op die betogende werkers moes losbrand nie.

Die National Education, Health and Allied Workers Union (Nehawu) sê egter twee van hul lede is beseer en in die hospitaal opgeneem.

Naidoo sê die werkers het betoog oor vervoerkwessies en dat die polisie se openbare-orde-eenheid hulle met skokgranate en rubberkoeëls uitmekaar gedryf het.

Die betoging kom nadat gesondheidswerkers kapsie gemaak het teen hulle wat van publieke vervoer gebruik moet maak om by die werk uit te kom.

Die Onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat sê hulle ondersoek die saak. - News24

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters