4 maande gelede
Kerkleiers se raad verskil
SKUIL TUIS: Llewellyn MacMaster (VGKSA) raai lidmate aan om weg te bly.  ~ Foto Verskaf

VERDEELDHEID heers onder pastore, dominees en ander kerklui van die land oor of lidmate as voorsorgmaatreël teen die corona-virus liewer moet tuis bly of steeds dienste bywoon.

Dit volg ná president Cyril Ramaphosa se toespraak Sondagaand waarin hy mense afraai om byeenkomste van meer as 100 by te woon.

Past. Stafford Petersen, sekretaris-generaal van die Full Gospel Church of God SA, sê hulle het gister ’n massavergadering oor die way forward gehou.

Bekers

“Ons hou by die landswette en bepalinge. Ons dienste gaan voort, maar kontak met mekaar as ’n gemeente is vir eers uit.

“Ons gaan ook ons lidmate vra om sanitiser te gebruik. Die bekers waarin ons wyn tydens Nagmaal bedien, word vervang met glasies.

“Die bordjies gaan nie meer omgestuur word nie, maar lidmate sal die geleentheid kry om dit in ’n mandjie voor in die kerk te gooi.”

Petersen sê om kerkgangers “die hande op te lê”, is vir eers ook uit, maar voeg by: “Met alles bygesê, is ons steeds gelowiges wat glo en ons gaan voort om teen die virus te bid.”

Die VGK sê hy stem saam dat net vinnige optrede die virus se verspreiding en die impak daarvan gaan verminder.

Llewellyn MacMaster, moderator van die VGKSA in die Kaapland-streek, sê in ’n verklaring: “Ons raai die lidmate aan om liefs by hulle huis as ’n familie saam te kom as om kerk toe te kom.”

Hy sê Nagmaal en doop sal nie kan voortgaan nie en hy stel voor begrafnisse moet klein seremonies wees. 

Gerald Maarman, ’n mediese dokter met ’n fokus op fisiologie en ordained minister van die Pinkster Navolgers van Christus-gemeente sê: “Die president se aankondiging beteken nie kerkdienste mag nie aangaan nie.

“Dit beteken net dat ons vir eers die struktuur en reëlmatigheid van kontaksessies van groot dienste moet aanpas.

“Dit kan gedoen word deur byvoorbeeld selgroepe te bemagtig om in hulle wyke bymekaar te kom of deur verskeie dienste in die week te hê met minder lede per diens.

“Kerke moet ook onthou dat hulle verantwoordelik gehou kan word as die virus versprei weens ’n kerkdiens wat ongemagtigde massa-kontak aanmoedig.”

Rev. Oscar Peter Bougardt van Calvary H.O.P.E. Ministries se die corona-virus word nou ’n geestelike attack op die kerk.

“As die mense nie na die huis van die Here kan hardloop vir skuiling nie, waarheen moet hulle dan gaan?” vra Bougardt.

“Dis nie nou ’n tyd vir kerke om hulle deure toe te maak nie.”

Hy sê baie kerke het reeds programme in plek vir Paasfees.

Hy voeg by: “Dis juis nou tyd vir kerke om saam te staan om teen die virus te bid.

“Vir elkeen om nou in ’n hoekie te gaan sit, gaan nie werk nie.” 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters