15 dae gelede
Kampvegter vir kunste oorlede
oorlede: Dr. David Piedt met sy boek wat hy ’n paar jaar gelede uitgegee het.Foto:garnett wicomb  ~ 

EEN van Oudtshoorn se bekendste inwoners, die geliefde dr. David Piedt, is Maandag aan Covid-19 oorlede.

Die 80-jarige Piedt was ’n ikoon in die onderwys- en Afrikaanse kultuurwêreld en stigterslid en oud-direksie-voorsitter van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK).

Hy is ná 11 dae se behandeling oorlede in die waakeenheid van ’n hospitaal in George.

’n Boesemvriend van Piedt, dr. Franklin Sonn, bestempel hom as ’n leier by uitstek en diep gelowige mens wat diep spore in die Oudtshoorn-gemeenskap getrap het.

Aktivis

Volgens Sonn sal hy sy vriend onthou as iemand wat vir niemand en niks teruggestaan het nie en altyd sy integriteit behou het.

Hugo Theart, kunsdirekteur van Kunste Onbeperk, die organisasie wat die KKNK aanbied, sê Piedt was ’n vryheidsvegter, Afrikaner-aktivis, opvoedkundige spesialis en vir dekades ’n onverskrokke ondersteuner van die KKNK.

Piedt het volgens Theart onder meer ’n belangrike rol gespeel daarin om al die gemeenskappe van Oudtshoorn en omgewing by die fees betrokke te kry.

Volgens Crispin Sonn, voorsitter van die KKNK, het Piedt die laaste paar jaar Afrikaans beskou as die taal wat mense verenig eerder as hom hulle uitmekaar te dryf.

Piedt laat sy vrou, Marjorie, dogters, Stacey en Ché, wat onderskeidelik in België en Engeland woon, twee skoonseuns, vier kleinkinders en ’n broer agter.

Begrafnis­reëlings is nog nie bekend nie.

Anroux Marais, die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, bestempel Piedt se afsterwe as ’n groot skok vir die gemeenskap van Oudtshoorn en organiseerders van die KKNK.

Marais sê; “Sy afsterwe laat ’n groot leemte in kunstegemeenskappe.

“Hy was ’n ware rolmodel en iemand wat geglo het aan die skoonheid en mag van kuns. Die Wes-Kaapse regering betreur die verlies van ’n groot stem in die Wes-Kaap.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters