2 maande gelede
Juig-video is oud, sê apostel
ONAANVAARBAAR: Dr. Llewellyn MacMaster sê dis duidelik in die video dat Covid-19-regulasies verbreek word.  ~ Netwerk24

JUBEL en juig... laat die dakke daarvan getuig.

In die ou dae voor Covid-19 was baie kerke sinoniem met sang, dans en kerk hou in groot getalle totdat die hoenders huis toe kom.

Maar sedert die inperking ingestel is, is selfs kerke gekortwiek in hul manier van kerk hou en die toelaatbare getalle.

Oordeelsdag

Dit wil egter blyk asof ’n kerk in Wellington banger is vir die duiwel en sy ledige oorkussing as vir Covid-19, wat wêreldwyd gesondheidsinstellings op hul knieë gedwing en lewens soos soetkoek opgeëet het.

’n Video wat tans die ronde doen, wys ’n Sondagdiens in Wellington by ’n pastoor se huis wat dit laat lyk asof dit oormôre die oordeelsdag is.

Dienaars, hoogs begeesterd, dans maskerloos in ’n kring.

Drukkies onder hierdie maskerlose kerkgangers word uitgedeel asof dit op special is.

Volgens die persoon wat die video gedeel het, is die betrokke pastoor se kerkdienste altyd sy WhatsApp-status.

Apostel Lorenzo “Rennie” Davids van die “God Is Always On Time Movement” sweer hoog en laag die diens wat in die video uitgebeeld word, is ’n “ou” diens en iets wat beslis nie Sondag plaasgevind het nie.

Op ’n vraag oor hoekom hy ’n ou video gepost het, sê Davids: “Want daai dag was ’n belangrike dag vir my.”

Presies wanneer die video opgeneem is, kon Davids nie sê nie, net dat “daai tyd was dit nog nie lockdown nie”.

Nooit

Davids sê verder: “Iemand het my gekontak en gevra oor die video, maar dis ’n ou video van laas jaar.

“Ons sal nooit Covid-regulasies verbreek nie. Ons volg die protokolle en vat net 30 tot 40 mense by ons dienste.

“Ek het dit net op my status gesit, maar ek het nie genoem dat dit ’n ou video is nie.”

Davids wou toe weet wie die video aan Son verskaf het.

Toe hy nie regkom nie, laat hy per WhatsApp weet: “Ek sal wel uitvind. God sal dit aan my openbaar.”

Dr. Llewellyn MacMaster, moderator van die VGKSA se Kaapland-streek, sê pastore en dienaars moet onthou dat Covid-19 nie kerkgangers uitsonder nie.

“Die virus vra nie eerste watter denominasie jy is en of jy bekeer is nie.

“Die Here het aan ons wysheid gegee en verstand sodat ons rasioneel kan wees, om mense se veiligheid te beskerm en hulle nie bloot te stel nie.”

MacMaster meen ook dis doodeenvoudig duidelik dat die dienaars in die video die Covid-regulasies verbreek.

“Sodra die regering weer optree, dan is dit juis dié mense wat op die dak staan en skreeu.”

MacMaster sê hulle het ’n verantwoordelikheid om protokol te volg en ’n voorbeeld te wees.

“Ons moet werklik omgee en nie misbruik van God se naam maak nie,” voeg hy by.

Ivan Meyer, die voorsitter van die Wes-Kaapse interministeriële komitee­ oor geloofs­gebaseerde organisasies (FBO), sê hulle is diep bekommerd oor die video waarin verpligte­ gesondheidsprotokolle nie gevolg word nie.

Bewus

“Ons sal met die Kaapse Wynland-munisipaliteit kontak maak om te verseker dat die distrik se FBO-netwerk ’n gesprek met die leiers van hierdie kerk hou om die implikasies van die nie-nakoming van die gereguleerde protokolle te verduidelik.”

Intussen sê die Drakenstein-munisipaliteit hy is nie bewus van die voorval nie.

“Alle geloofsgebaseerde byeenkomste wat binne lokale plaasvind, kan 50 of minder persone toelaat. Wat buite-byeenkomste betref, kan 100 persone of minder toegelaat word.

“Indien die Covid-19-regulasies verbreek en die voorval aan die munisipaliteit gerapporteer word, sal ’n boete uitgereik word,” aldus dié munisipaliteit.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters