6 maande gelede
Inwoners wend hulle tot hemel
RAAK STIL: Talle mense laat sak gister hul kop in gebed.  ~ Basil Davids

MONTAGU. – Hordes mense, onder wie kinders, het Dinsdag by die cop shop hier saamgetrek en gebid.

Die mense het langs die pad – en sommige sommer op die terrein van die polisiekantoor – saamgekom en gebid vir geliefdes wat as gevolg van Covid-19 gesterf het.

Kerse is ook aangesteek om die siele te herdenk wat moederaarde verlaat het.

Opgeneem

Baie van die mense was in trane terwyl hulle God gevra het om hul dorp, asook die res van die wêreld, van die pandemie te verlos.

Montagu is een van baie dorpe waar al talle sterfgevalle voorgekom het.

Baie mense is ook positief getoets en in die hospitaal opgeneem. Mense vrees reeds die hospitaal kan oorvol raak.

Antie Magrieta Solomon sê gister sy het nog nie ’n geliefde aan die dood afgestaan nie.

Sy sê: “Vandag het ek die mense genooi om te kom join om te bid en ook te vra die Here moet die mense kom gesond maak wat in die hospitaal om hul lewe veg.”

Solomon was baie emosioneel en die trane het oor haar wange gerol.

HELP ONS, ASSEBLIEF: Mense van die dorp bid saam vir genade in dié ongekende tye. Foto: Basil Davids

Chantel Hofmeyer (8) het ook saam gebid.

Chantel sê sy weet presies waaroor die corona-virus gaan.

“Ek kom vandag bid dat God die mense asseblief moet kom gesond maak,” sê die meisie.

  • In Robertson is Sondag by die hospitaal vir die siekes gebid.

Jeremy Lucas, die organiseerder van die biduur, het mense in ’n Facebook-boodskap gevra om vir die hele Langebergstreek te bid.

Hy het ook versoek dat hulle hul samewerking gee om hulself en ander veilig te hou.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters