20 dae gelede
Infeksies neem toe in Vrystaatse skole
Die Educators Union of SA (Eusa) het verlede week gevra dat alle skole in die land gesluit moet word  ~ Foto Ter Illustrasie: Tracy-Lynn Ruiters

COVID-19 het die lewe van 'n matriekleerder van Welkom geëis.

Howard Ndaba, 'n woordvoerder vir die provinsiale onderwysdepartement, verduidelik dat die leerder een van 11 bevestigde gevalle by die Lephola Hoërskool in Thabong was.

"Daar is nog ander leerders wie nog op hul toetsuitslae wag."

TimesLive berig dat die tiener verlede Woensdag positief vir die virus getoets het. Dit nadat hy griepsimptome getoon het. 

Die leerder is dood, skaars 'n week nadat hy sy uitslae ontvang het.

Intussen het die skool sy deure gesluit en sal na verwagting Maandag weer heropen.

Ndaba bevestig dat daar 'n toename is in die aantal leerders in die provinsie wie positief getoets het. 

"Daar is baie skole en baie wat positief toets vir die virus. Net verlede week het drie leerders in 'n koshuis positief getoets." 

SowetanLIVE berig dat twee kombuispersoneellede, vyf koshuislede en 'n onderwyser van die Hoërskool Eunice in Bloemfontein positief getoets het. 

By Tebang Laerskool het vyf onderwysers en 11 leerders positief getoets. 

In die Lejweleputswa-distrik in Welkom was daar meer as 50 positiewe gevalle in slegs vier dae. Dit terwyl 30 leerders en 14 onderwysers in die Xhariep-distrik in Trompsburg positief getoets het.

Die Educators' Union of South Africa het verlede week versoek dat skole in die land gesluit moet word weens 'n toename in Covid-infeksies onder leerders en onderwysers.

Kabelo Mahlobogwane, 'n woordvoerder vir die vakbond, sê: "Met Gauteng, die Vrystaat en die Oos-Kaap wat reeds verklaar het dat hulle die derde vlaag bereik het, is dit onvermydelik dat die res van die land binnekort sal volg."

Volgens hom dra skole by tot die herlewing van Covid-19, omdat die nodige Covid-veiligheidsmaatreëls nie gehoorsaam word nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters