23 dae gelede
Inentings gaan voort met nuwe entstof
Prof. Salim Abdool Karim  ~ City Press

SUID-AFRIKA beplan om hul entstofprogram met 'n nuwe entstof voort te sit terwyl verdere toetse met die AstraZeneca-entstof gedoen word.

Prof. Salim Abdool Karim, medevoorsitter van die ministeriële advieskomitee, het Maandag aan die Wêreldgesondheidsorganisasie gesê inentings gaan nou met die Johnson & Johnson-entstof geskied.

Karim voorsien dat die begindatum daarvan met slegs 'n paar dae vertraag kan word.

News24 berig die departement van gesondheid is volgens hul voorlegging aan die parlament in die proses om 20 miljoen dosisse van die J&J-entstof te bekom.

Daar is op die nuwe entstof besluit nadat dit aan die lig gekom het dat die AstraZeneca-entstof, wat laas week geland het, net 22% effektief is teen die nuwe variant van die corona-virus.

"Ons het nie verwag dat die doeltreffendheid tot so 'n vlak sou daal nie. So nou is ons onseker of die entstof hospitalisasie en erge siekte gaan voorkom," het Karim verduidelik.

Die land gaan nou 'n alternatiewe benadering volg waarin 100 000 mense ingeënt gaan word om die hospitalisasiekoers te monitor.

"As dit onder die drempel is waarna ons soek en ons is seker dit is effektief, kan ons met inentings voortgaan. As dit bo die drempel is, sal ons na alternatiewe moet soek.

"Om dit eenvoudig te stel. Ons wil nie 'n miljoen mense inent met 'n entstof wat nie effektief gaan wees om hospitalisasie en erge siekte te voorkom nie. Ons moet dit eers vasstel."

Karim sê die eerste aanduidings dat entstowwe se vlakke van doeltreffendheid teen die nuwe variant verswak, was gesien toe hulle die Novavax-entstof getoets het.

In die Verenigde Koninkryk was Novavax 89% effektief, maar in Suid-Afrika was dit net 49%. AstraZeneca was 66% effektief, maar slegs 22% in Suid-Afrika.



Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters