13 dae gelede
Hub sien steeds om na kliënte se welsyn
Beskikbaar: Die Counselling Hub bied nou berading aanlyn aan as gevolg van die pandemie.  ~ 

AS DIT by geestesgesondheidsorg kom, sit Suid-Afrika met ’n groot aanvraag, maar met ’n baie lae kapasiteit – veral in die agter­geblewe gemeenskappe.

Die corona-virus het ook groot uitdagings gebring in terme van fisieke gesondheid en die ekonomie.

Dit het chaos veroorsaak in mense se algemene welsyn en die krake het begin wys as dit kom by hoe inwoners omsien na hul geestesgesondheid.

Baie mense moes kwessies soos dwelm- en alkoholmisbruik, asook mishandeling op hul eie aanpak.

Hulle was sonder enige hulp, want die land se gesondheidsdienste moes fokus op die bekamping van die virus en omsien na ál positiewe gevalle. Die pandemie het besoeke by geestesgesondheidsorgfasiliteite belemmer.

Daarom het Woodstock se Counselling Hub gesien dit bly van kardinale belang dat daar steeds ’n diens gelewer moet word aan lae-inkomste-gemeenskappe.

Aangevuur

Die Counselling Hub is ’n inisiatief van die Sacap Foundation, ’n nie-regeringsorganisasie, en die KK Educational Fund (KKEF), wat daartoe werk om geestesgesondheidsdienste teen bekostigbare pryse te lewer.

Volgens Romi Kaplan, mede-stigter van die Hub, het die virus-krisis hulle aangevuur om so ’n bietjie anders te dink.

Hulle wou nie hul kliënte verwyder van hul beraders nie en daarom het hulle al in die eerste week van die lockdown met ’n telefoniese beradingsdiens begin en op virtuele platforms begin werk.

Gewoonlik vra die Hub R50 per sessie, maar in hierdie onsekere ekonomiese klimaat met mense wat hul werk verloor het, doen die beraders eerder die belwerk en maak kontak met die kliënt.

Elke dag is daar meer as 30 vrywillige beraders wat berading aan meer as 110 kliënte bied.

Sedert die Hub in 2019 begin het, het dit ’n belangrike verwysingsrol begin speel na spesifieke geestesgesondheidsdienste.

Met die lockdown het ouers eers probleme begin raaksien, soos hul kinders se eetversteurings of dwelmmisbruik.

Volgens die Hub se koördineerder, Shifra Jacobson, het die Hub sy etiek om bekostigbare dienste te lewer nou aanlyn gevat, want so ’n diens is baie belangrik in hierdie moeilike tye.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters