21 dae gelede
Hospitaal groet corona-warrior
CHEER: Zuliswa Maqana verlaat Maandag die Groote Schuur-hospitaal al dansend.  ~ Foto Verskaf

DAAR was grote vreugde by Groote Schuur-hospitaal toe een van hul Covid-19-pasiënte dansend die gebou verlaat het – ná meer as twee maande in die hospitaal.

Luidens ’n verklaring van die gesondheidsdepartement is Zuliswa Maqana (48), van Samora Machel naby Philippi, op 4 Mei met erge longontsteking weens Covid-19 in Mitchells Plain se distrikshospitaal toegelaat. ’n Dag later is sy na Groote Schuur-hospitaal oorgeplaas.

“Sy was een van die Covid-19-pasiënte wat die langste in die hospitaal was. Sy was 77 dae in die hospitaal,” sê Alaric Jacobs, ’n woordvoerder van die hospitaal.

Dankbaar

“Sy is dadelik in die hoësorgeenheid opgeneem en aan ’n ventilator gekoppel. Sy was 51 dae van haar 54 dae in dié eenheid op die ventilator.”

Dr Henri Pickardt, ’n chirurg, sê Maqana se stryd was nie ’n maklike een nie. “Dit was ’n opdraandepad met komplikasies en ander infeksies wat sy ook moes fight. Sy is uiteindelik op 28 Junie uit ICU.

“Sy kon skaars praat of loop toe sy na saal F5 oorgeplaas is. Maar sy het stadig maar seker sterker geword.”

Maqana het verskeie mediese ingrypings gehad voordat sy weer soos haarself beginvoel het. Luidens die hospitaal se verklaring het sy haar man in 2017 verloor.

Maqana is baie dankbaar vir Groote Schuur. “Ek kan nie onthou watter dag ek hier aangekom het nie en kon weke nie beweeg nie. Baie dankie, Groote Schuur. Almal was so nice en die dokters was wonderlik. Almal was so bly om my hier te sien uitstap.”

Dr. Keith Cloete, hoof van gesondheid in die Wes-Kaap, het Groote Schuur se personeel geprys.

Inspireer

“Groote Schuur het elke week ’n Appreciation Wednesday-veldtog om hul helde te vereer. Die personeel wat Zuliswa Maqana behandel het, is beslis helde. Ons personeel werk onder uitdagende omstandighede, maar sulke wonderlike stories inspireer ons om voort te gaan.”

Volgens Mark van der Heever, provinsiale gesondheidswoordvoerder, was daar teen Dinsdag altesaam 1 569 Covid-19-pasiënte gehospitaliseer, waarvan 333 in waakeenhede.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters