20 dae gelede
‘Hier kom ’n ding as mense arrogant bly’
VERSIGTIG: Bernice Minnaar sê sy lees elke dag oor mense wat doodgaan.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – Baie inwoners hier wag letterlik op die corona-virus om hulle te kom haal.

Sekere inwoners sê soos dinge nou handuit ruk, neem die corona-virus-pandemie die mensdom stadig maar seker oor.

Die mense sê indien die gemeenskap nie sy houding teenoor Covid-19 verander nie, gaan almal soos vlieë sterf.

Bernice Minnaar, ’n baie bekommerde inwoner, draai geen doekies om nie.

Gehoor

Minnaar sê: “Elke dag in die nuus lees en hoor ons van hoe die virus mense se lewe vinnig kortknip.”

Volgens Minnaar wil sekere mense hier net nie gehoor gee nie.

Sy maan hulle: “Daar word so baie gesê dat mense die eenvoudige reëls net moet volg deur hul hande te was en hul maskers te dra.”

Fielies Strydom sê te oordeel aan die mense se reaksie lyk dit asof daar met klippe gepraat word.

’n Verergde Strydom sê driftig: “Die blerrie mense loop nog sonder hul maskers in dié kritieke tyd en dis ook mos nie asof daar ’n waterskaarste is dat hulle nie hul hande kan was nie.”

Strydom sê hy is ’n tuinier en sorg dat hy elke dag sy masker dra en sy hande gereeld was.

Johannes Malgas en David Mouries is teen die grond platgeslaan.

“Elke dag sien ons nog mense wat op mekaar hoes en dan spoeg hulle nog hul kieme op die grond neer,” braak die tjommies gal.

’n Verbyganger beaam dit en sê net toe hy in die pad op geloop gekom het, “het ’n jong ook snot uit sy keelgat gehoes en sy slyme sommer langs my gespoeg”.

Die man vertel kwaad: “Ek het daai flippen jong byna uit die grond geklap.”

Ernstig

Die ontevrede inwoners sê hulle hoop net die mense verander hul houdings nou en bly veilig.

Bernard Cupido, ’n maatskaplike werker, maan die mense in ’n mediaverklaring om die pandemie ernstig op te neem.

Cupido sê ongelukkig sal die mense seker eers besef waaroor dit werklik gaan as die corona-virus hulle of een van hul geliefdes tref.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters