Verlede maand
Herstelsyfer lyk baie beter
DAAR IS HOOP: Min. Sharna Fernandez is verlig oor die sigbare verbetering by tehuise vir bejaardes.  ~ DailySun

DAAR is ’n beduidende verbetering in die herstelsyfer van Covid-19-pasiënte in ouetehuise.

Die Wes-Kaapse minister van maatskaplike ontwikkeling, Sharna Fernandez, sê dít is te danke aan die streng protokols wat by tehuise vir bejaardes gevolg is.

Sy sê die departement monitor steeds dié gevalle. Terselfdertyd wil die departement die versekering gee dat die inwoners se menswaardigheid en trots te alle tye beskerm word.

Maatreëls

Fernandez benadruk dat dit juis dié groep mense is wat in die lockdown-tyd baie weerloos is weens hul ouderdom en vatbaarheid vir siektes.

Wat meer druk op bejaardes plaas, is die streng maatreëls wat almal moet volg en dat hulle nie met hul naaste in aanraking mag kom nie.

Sy sê: “Dit het baie opoffering van bejaardes en hul families geverg, maar dit het vrugte afgewerp.”

Fernandez sê sy is verheug oor die stabiele styging van die herstelkoers vir mense wat Covid-19 gehad het.

Die minister benadruk sy besef watter druk dit op die frontline-werkers plaas wat by die tehuise werk.

Fernandez voeg by dat sy nét so goed besef hoe swaar dit op bejaardes druk dat hulle nou al vir maande daarvan weerhou word om hul familie te kan sien.

Sy sê haar departement is tans in konsultasie met die nasionale departement om maniere te probeer vind om dit te verbeter sonder om ’n tweede vlaag te veroorsaak.

In die Wes-Kaap is daar 300 tehuise vir bejaardes waarvan 117 tehuise deur die departe­ment befonds word.

Teen 31 Augustus het 1 430 bejaardes van Covid-19 herstel en die verslag verwys na sowat 100 bejaardes wat nog die virus onder lede het.

Fernandez noem in een geval is daar ’n 102-jarige tante, Dinah Fourie, wat in die Kensington Old Age Home woon en wat 100% herstel het.

Die minister sê daar is in 2020-’21 se begroting ’n hele R250 miljoen opsy gesit vir dienste aan bejaardes.

Sy voeg by die begroting moes ná die uitbreking van die pandemie aangepas word om fondse beskikbaar te maak rondom alle protokols en dienste wat bo en behalwe die dag-tot-dag-versorging benodig is.

Daar is onder meer spesiale opleiding aan versorgers gegee en baie van die geld gaan steeds vir die ontsmetting van die tehuise om te verseker die omgewing is veilig vir die inwoners wat die dodelike Covid-19 betref.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters