Verlede maand
Haweloses is happy met hulle skuiling
SAMARITAAN: Edward Camealio sê dis ’n plesier om die haweloses te huisves.  ~ Theo Jeptha

TE MIDDE van die vrees wat die corona-virus by Suid-Afrikaners inboesem, het ’n groep haweloses van die Baai hulle hemel op aarde gevind.

Die Jarman Saal in Schauderville het gedurende die lockdown ’n tydelike tuiste geword vir diegene wat op straat woon.

Edward Camealio, ’n plaaslike aktivis in dié gemeenskap, sê dis ’n plesier om die mense daar te hê.

Camealio sê: “Al wat elke mens benodig, is ’n tweede kans in die lewe. Ons het 63 mense hier, van wie 6 vroue is.

“Dié mense benodig net hulp, want baie van hulle het vaardighede.

Motivering

“Ons het ontdek hier is ’n kode 14-drywer onder hulle en hy het net sy liksens hernu. Verder is hier elec­tricians, messelaars, plumbers, painters, carpenters en tilers.”

Volgens Camealio benodig dié mense net die nodige motivering en hulp. Hy glo as hulle hulp kan kry en ’n werk bekom, kan dit daartoe lei dat hulle ’n plekkie van hulle eie kan huur. En só kan hulle van die straat af kom.

Elke aand 22:00 het hulle ’n geestelike oordenking wat deur Moslems én Christene behartig word.

”Ons het geen probleem met hulle gedrag nie en hulle het vandag die saal en die jaart skoongemaak,” vertel Camealio.

“Vandag het die gesondheidswerkers gekom om na hulle gesondheid om te sien.”

Een van die haweloses, Myra Boucher (53) sê dis baie beter om in die saal te woon as op straat.

Boucher sê: “Ek voel veilig hier en dis privaat. Dis ’n plesier om hier te wees, want ons het warm storte en ons eet ook baie lekker.”

Frank Ernest (53) sê hy is dankbaar vir wat hulle kry. Ernest sê hy het by die dam in Sydenham gebly.

Hy sê: “Ek is baie bekommerd as die 21 dae verby is dat ons maar weer op straat gaan beland.”

Rustig

Noel Kiewiets (49) sê hy het 12 jaar in ’n bos gebly en waardeer wat tans vir hom gedoen word.

Hy vertel hy moes in die bos met een oog oop slaap, maar nou kan hy snags darem rustig slaap.

Die plaaslike raadslid, Isaac Abrahams, sê hy is bewus van die mense se bekommernis oor wat met hulle gaan gebeur wanneer die 21 dae verby is.

Volgens Abrahams kan die munisipaliteit ’n stuk grond uitsonder waarop strukture gebou kan word.

“Onder ons straatbewoners is daar wel mense wat dit kan maak in die lewe,” meen Abrahams.

Intussen is die haweloses dit oor een ding eens: Waar hulle tans is, word hulle die beste beskerming gebied teen die gevreesde corona-virus.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters