Verlede maand
Groep raak rof voor hospitaal
PERSEEL: Dis hier by die Sawas-hospitaal in Jansen­ville waar daar Maandagaand chaos losgebars het.  ~ Google Streetview

DIE toelating van ’n Covid-19-pasiënt in die Sawas-hospitaal in Jansenville het daartoe gelei dat inwoners Maandagaand tyres voor die hospitaal gebrand het.

Hulle het ook gedreig om die CEO van die hospitaal leed aan te doen en haar huis af te brand.

’n Ingeligte het aan Son gesê die chaos het gekom nadat die CEO van die hospitaal glo ’n directive uitgevoer het om ’n Covid-19-pasiënt van die Aberdeen-hospitaal na die Sawas-hospitaal oor te plaas. Die CEO se naam mag om veiligheidsredes nie genoem word nie.

Die bron sê die nuus dat ’n Covid-19-pasiënt na Jansenville oorgeplaas gaan word, het gou die ore van die gemeenskap bereik.

Volgens hom het die gemeenskap volgehou hulle soek nie die pasiënt in Jansenville nie.

Die bron sê kort hierna het die CEO ’n meeting met die plaaslike inwonerskomitee gehou en aan die lede verduidelik hoekom die pasiënt daarheen kom.

Volgens die bron het almal dit toe verstaan.

Maar Maandagaand het die hel losgebreek toe tussen 80 en 100 ontevrede inwoners omstreeks 18:30 buite die hospitaal saamgedrom het.

Volgens die bron was die CEO in daardie stadium nog in die hospitaal.

Hy sê dis tóé dat hulle gedreig het om haar en haar blyplek aan die brand te steek.

Hy sê die ontevrede inwoners het aanhoudend aan die hospitaal se hekke geruk en pluk.

KWAAD: Ontevrede inwoners maak vuur voor die hospitaal en dreig om die CEO leed aan te doen. Die CEO was ten tyde van die oproer in die hospitaal vasgekeer. Foto: Verskaf

Volgens die bron was die CEO en nog twee ander personeellede in die hospitaal vasgekeer totdat die polisie haar omstreeks 22:30 uit die gebou begelei het.

Hy sê intussen is die weermag by die hospitaal ontplooi.

Die bron sê toe die inwoners gisteroggend 06:00 weer by die hospitaal opruk om hul ontevredenheid te demonstreer, was die polisie reeds op die toneel.

Verbygaan

Abraham Arries, ’n wyksraadslid in die dorp, sê in ’n video clip wat Saterdag voor die hospitaal geneem is, dat die personeel wat aan diens is, nie pasiënte vanaf dan tot Maandag by die hospitaal moet toelaat nie.

Hy sê indien ’n pasiënt van buite af kom, moet hy maar verbygaan na ’n ander hospitaal toe, “want ons is te bang”.

Volgens Arries baklei hulle glad nie met die pasiënt nie.

Hy sê hy het vir raadslid Willem Säfers gesê om vir die pasiënt se familie te sê hulle moenie sleg voel nie, want daar word nie met die pasiënt baklei nie.

Hulle fight met die CEO oor die manier waarop sy besluite geneem het.

Volgens Arries wil Jansenville nie ander plekke se pasiënte in die dorp hê nie.

Johnny Lewis, sekretaris van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, het gister vertel wat glo gebeur het.

Toe die gemeenskap Saterdag verneem daar kom ’n Covid-19-pasiënt Jansen­ville toe, het hulle voor die hospitaal saamgedrom om te verhoed dat die pasiënt daar toegelaat word.

NIE WELKOM: Abraham Arries sê Saterdag voor die hospitaal in Jansen­ville hulle soek nie ander plekke se pasiënte daar nie. Foto: Verskaf

Volgens Lewis is Jansenville Covid-19 free en die gemeenskap is bang die virus kan daarheen versprei.

“Hoekom moet ons mense toelaat wat besmet is terwyl niemand hier besmet is nie?

“Almal vrees dié dodelike siekte. Daar is geen fout as mense vrese het nie, want dis ’n dodelike siekte.”

Volgens Lewis is daar Maandag tydens ’n meeting van die Covid-19 Joint Operations Committee besluit dat geen pasiënte vir die afgelope naweek tot Maandag tussen dorpe in die Dr. Beyers Naudé-munisipaliteit vervoer mag word nie.

Reëlings

Hy sê daar is besluit dat, sou daar ’n Covid-19-pasiënt na Jansenville kom, die bestuur van die hospitaal dit moet kommunikeer aan Arries, wat dit op sy beurt moet oordra aan die res van die komiteelede.

Lewis sê hulle was skaars uit die vergadering toe hulle verneem die pasiënt is op pad Jansenville toe. Volgens hom is dié reëlings sonder hul kennis getref.

“Hulle het in die meeting ’n opportunity gehad om vir ons te sê die pasiënt is op pad.”

Hy sê die pasiënt se familie wil hom nou kom haal oor hulle vrees vir sy veiligheid.

Volgens Lewis het hulle die gemeenskap laat weet die pasiënt se familie gaan hom kom haal.

Die polisie het teen gistermiddag laat nog nie op Son se navrae gereageer nie.

Sizwe Kupelo, ’n woordvoerder van die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement, het ook teen gistermiddag laat nog nie op navrae gereageer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters