Verlede maand
Groep gee Covid-raad
WERK SAAML Celiter Matthews (heel links) praat met Mario Appollis (middel) en Renaldo Adams oor die belangrikheid van ontsmettingsmiddels en hoe dit almal beskerm.  ~ Jonathan Lestrade

PAARL. – “Ons kan nie ophou om mense opvoeding te gee oor Covid-19 nie.”

So waarsku Alvina Abrahams, gemeenskapsaktivis en stigter van ’n plaaswerkersvereniging wat gister ontsmettingsmiddels en maskers by skole, taverns en kerke oorhandig het.

Hulle doen dit in ’n poging om mense net weer bewus te maak van die belangrikheid daarvan om die Covid-19-reëls na te kom.

Minder

“Dit is nie net die regering die verantwoordelikheid om te verseker dat mense opgevoed word nie, maar almal se verantwoordelikheid om te verseker dat ons mekaar beskerm teen die virus,” sê sy.

Volgens Abrahams blyk dit dat daar minder gepraat en gedoen word om mekaar te beskerm.

“Omdat die syfers wys dat daar minder infeksies is, slack mense ’n bietjie om die reëls na te kom. So, ek het besluit dat dit belangrik is om net weer mense te herinner hoe belangrik dit is om nog hul maskers te dra, hande te was en ontsmet en sosiale afstand te behou,” vertel sy.

By die Primêre Skool Dalweide het Abrahams en haar span die sanitisers en maskers aan die hoof en adjunk-hoof oorhandig en aan hulle gesê dit is om hulle te help.

“Met die maskers wat ek oorhandig het, beteken dit dat geen kind terug huis toe gestuur kan word omdat hulle dalk hul masker vergeet het nie. Hier is nou ’n paar ekstras vir hulle wat hulle kan gebruik,” sê sy.

Sy het ook ’n plakkaat met prente en inligting oorhandig wat in die klaskamers gebruik kan word wat kinders op al die vlakke in die skool kan verstaan.

“Ons het soveel kindertjies wat skool toe kom wat dalk net by die skool leer oor die virus en hoe om hulself te beskerm, maar niks by die huis nie.

“Met dié inligting kan hulle nou huis toe gaan en vir hul ouers, broers en susters ook daarvan vertel en hulle kan mekaar saam beskerm,” sê sy.

HOU SKOON: Allison Naidoo, adjunkhoof, wys die kinders hoe om die sanitiser te gebruik. Foto: Jonathan Lestrade

Intussen het sy ook die geleentheid gebruik om ’n paar Paaseiers aan die kinders te gee.

“Ek weet daar is baie van hulle wat niks oor die Paasnaweek gekry het nie. So, dit was sommer ook iets om ’n glimlag op hul gesigte te sit,” sê sy.

Sy en haar span het ook ’n draai gaan maak by ’n tavern in die Paarl waar sy met die eienaar gesels en inligting gedeel het oor die virus en hoe om veilig te bly.

“Ons sien by kuierplekke waar mense ontspan, volg hulle nie altyd die reëls nie.

Opgeplak

“So, dit was maar net weer om hulle bewus te maak van die virus en ook hoe om hulself en ander te beskerm.”

KLEIN GESKENKIE: Alvina Abrahams het die klas by Dalweide Primer veras met paaseiers. Foto: Jonathan Lestrade

Abrahams sê sy was baie bly om te sien dat die tavern al die nodige inligting binne en buite die perseel opgeplak het om te verseker dat hulle die protokolle volg en sodoende klante opvoed.

Verder het die span ’n kerk sowel as nóg ’n plaasskool besoek.

“Kom ons werk saam en kyk na onsself en mekaar. Was jou hande, dra jou masker en sanitise,” is haar raad.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters