3 maande gelede
God gee krag teen Corona
Carryn Pretorius
Carryn Pretorius  ~ Verskaf

OM te hoor hoe jou ma voor die Here huil vir jou gesondheid terwyl jy in pyn lê, is 'n dubbele seer. 

Só vertel Carryn Pretorius, 'n 23-jarige Covid-19 survivor van Delft. 

Pretorius se kwarantyn periode het gister op Pinkster Sondag, 31 Mei, geeindig. In ’n hartroerende video wat sy op Facebook geplaas het, vertel die jong vrou van haar stryd met Covid-19. 

"Ek het op 8 Mei so 'n skielike hoesie gehad. Ek het eers niks daarvan gedink nie. Later die dag het ek nog simptome getoon en besluit om sommer in self-isolasie te gaan want ons is 'n gesin van sewe mense en ek wou nie my familie of enigiemand se gesondheid op risiko plaas nie."

Sy sê sy het toe sommer self dokter toe gaan, maar haar dokter het haar medikasie vir 'n mild flu gegee. 

"Ek kon net aan my voel dat iets nie reg is nie, was amper asof iets my gesê het ek het die virus. Ek het my die Dinsdag by die daghospitaal in Delft laat toets. Maar ek het heeltyd vir die Here gebid en gevra dat dit nie Covid-19 moet wees nie en gesê ek weier om 'n statistiek te wees en het voortgegaan met isolasie."

Sy vertel dat sy die Woensdagaand baie sleg gevoel het.

"My hele lyf was seer en dit het gevoel of ek nie kan loop nie. Ek het vir my kollegas gesê, bid asseblief vir my."

Sy noem haar kollegas het haar bemoedig.

"Die Donderdag was dit erger. Ek het die aand gehoor hoe huil my ma toe sy vir die Here bid dat ek moet gesond word. 'n Ma se trane maak baie seer," vertel die jong vrou huilend. 

Sy sê in die oggendure van daardie Vrydag het sy wakker geword met hoes wat druk en 'n pyn op haar bors.

"Ek het nog nooit so iets gevoel nie. Dit het gevoel of die pyn tot in hande gaan en asof my hele longe en alles by my keel wou uitkom. Ek het geworstel met die Here. Ek wou weet hoekom dit met my moes gebeur het."

Pretorius vertel dat sy weer hospitaal toe was, maar dat sy net pynmedikasie gekry het.

Sy sê sy het male sonder taal net opgestaan om te bid, maar dat sy net gehuil het.

"Ek het geen woorde gehad om te bid nie, maar ek het geweet die Here verstaan my woordelose gebed."

Die Vrydag het sy haar uitslae gekry.

"Dit het gevoel of my hele wêreld vergaan. Ek het net tot in die gang geloop en gesê: ‘Mammie ek is positief.

"Die jong vrou is Maandag, na drie weke in isolasie, weer werk toe.

"Ek is nou weer my ou self, gesond en het niks simptome nie. Ek besef nou ek moes hierdeur gaan om vir ander 'n lewende getuienis te wees. Ek het Covid-19 survive, maar dit was net met die Here. God veg vir ons." 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters